ADVERTISEMENT:

 

Jong sportkampioen koelbloedig doodgeskiet

 

News  Date: 12 April 2002

 

LOUIS TRICHARDT - Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het die afgelope naweek vier mans, wat verbind word met die gewapende roof en moord op die 19-jarige Charl Bezuidenhout, op Ramokgopa aangekeer.

Charl, wat namens ‘n plaaslike meelverspreider invorderings gedoen het, is op Donderdag, 4 April deur ‘n groep gewapende mans voor Baduma General Dealer op Ramokgopa doodgeskiet. Die voorval het plaasgevind kort nadat hy sowat R32 000 in kontant en R22 000 se tjeks by die besigheid opgelaai het. Een koeël het hom in die kop getref, terwyl ‘n tweede hom in die maag getref het. Sy aanvallers het daarna met die kontant en tjeks op die vlug geslaan. Charl is op die toneel dood.

Volgens kapt. Ailwei Mushavhanamadi van die SAPD op Thohoyandou is twee mans, Richard Rakgate (21) en Richard Kganaga (41), Saterdag op Ramokgopa aangekeer in verband met die voorval. ‘n Verdere twee verdagtes, Frans Malisa (20) en Isac Motaung (21), is Sondag gearresteer, ook op Ramokgopa. ‘n Groot hoeveelheid kontant is deur die polisie teruggevind, terwyl hul ook beslag gelê het op vier ongelisensieerde handwapens, insluitend ‘n 9mm, 7.65, .38 en .22. Rakgate, Kganaga, Malisa en Mataung het Maandag (8ste) in die landdroshof op Sekgosese verskyn op aanklagte van gewapende roof en moord. Hulle is borgtog geweier en hul saak is uitgestel tot 9 Mei.

Die stil, stemmige Charl, of Goliat soos hy aan sy skoolvriende bekend was, het verlede jaar aan die Hoërskool Louis Trichardt gematrikuleer. Hy was ‘n uitstekende sportman en is einde verlede jaar aangewys as Hoërskool Louis Trichardt se Sportman van die Jaar. Reeds op laerskool het hy op nasionale vlak uitgeblink en was vir drie agtereenvolgende jare die Suid-Afrikaanse gewigstootkampioen in sy ouderdomgroep.

Op hoërskool was hy vanaf 1997 tot 2001 lid van die provinsiale atletiekspan en buiten vir erekleure in atletiek, verwerf hy ook jaarliks die skool se trofee vir Beste Veldatleet. Hy is ook die houer van menige gewigstootrekords.

Charl het ook in rugby uitgeblink en verwerf twee keer erekleure in dié sportsoort. Hy was ondermeer kaptein van die skool se eerste rugbyspan en lid van die Noordelike Blou Bulle-ontwikkelingspan in 2001. Tot en met sy dood was hy ook lid van die Louis Trichardt Rugbyklub.

Charl was op skool ‘n kranige krieketspeler en verwerf ook sy erekleure in dié sportsoort as deel van die skool se eerste krieketspan. Buiten vir sy prestasies op sportgebied, het hy ook verlede jaar opgetree as onderhoofseun (sport) en kos-huishoofseun.

Charl word oorleef deur sy ouers, Piet en Annette van Giyani, en sy broer, Theo. Hy is Donderdag, 11 April om 11:00 vanuit die N.G. Kerk Louis Trichardt-gemeente begrawe.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines