

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 April 2002
LOUIS TRICHARDT - In ‘n voorval verlede week het ‘n vrou sonder haar skoene by die plaaslike SAPD-kantoor uitgestap, nadat sy na bewering oor ‘n jong dame se voet gery het toe sy in die hoofstraat parkeer het.
Die vrou, wat anoniem wil bly uit vrees vir viktimisasie, was Donderdag, 4 April ongeveer 14:30 besig om haar motor te parkeer in Kroghstraat. Haar kind was by haar in die motor.
"Ek het gesien dat daar ‘n persoon in die parkeerplek staan, maar toe ek begin agteruit ry, het sy my gesien en na die straat se kant toe getree. Die volgende oomblik hoor ek ‘n vreeslike geskreeu en ‘n dame van so ongeveer 20 jaar druk haar kop by my venster in en sê dat ek oor haar voet gery het en dat sy ‘n paar nuwe skoene wil hê," vertel die vrou.
"Ek het vir haar gesê dat sy mos gesien het dat ek aankom en dat sy nie juis vir my in pyn voorkom nie."
Daarna het die vrou die klaer opgelaai en saam na die polisiestasie gery.
Nadat vier polisiebeamptes die klaer se saak in Venda aangehoor het, het die vierde polisiebeampte die vrou ‘n kans gegee om haar saak te stel. Na bewering het die polisiemanne heeltyd gepraat van ‘n saak van roekelose bestuur, maar nie een het ‘n poging aangewend om ‘n saak oop te maak nie. Daar is aan die vrou gesê dat die klaer beweer dat haar skoen gebreek het en dat sy vir die klaer nuwe skoene moet gaan koop.
"Sy het na haar regterskoen gewys, wat, volgens haar posisie in die parkeerarea, nie in die pad sou gekom het nie," sê die vrou.
Die vrou het aan die polisiebeampte gesê dat sy nie geld by haar het nie. Daarop het sy haar eie skoene uitgetrek en dit aan die klaer gegee.
Die beampte het aan die klaer gevra of sy tevrede is, maar terselfdertyd het ‘n ander polisieman tussenbeide getree en na bewering gesê dat ‘n paar tweedehandse skoene glad nie goed genoeg is nie en dat daar tog ‘n saak oopgemaak moet word. Intussen het die vrou se kind histeries aan die skreeu gegaan toe die moeder haar skoene uittrek en aan die klaer gee.
"Ek het daarop aan die polisieman gevra of hy kon sien in watter toestand my kind is en of hy ‘n siviele saak teen hom wou hê. Daarop het hy geantwoord dat ek maar kon gaan. Die jong dame het by die kantoor uitgestap met geen teken van ‘n kruppelstap nie, met my skoene aan haar voete."
Die vrou het toe die polisiestasie kaalvoet en met ‘n skreeuende kind verlaat.

ADVERTISEMENT:
