ADVERTISEMENT:

 

David, een van die plaaserkers wat verantwoordelik is vir die versorging van die babakrokodille op Ratho, was baie hartseer toe hy die omgeslane hokke moes skoonmaak na die storm. Hierdie jong krokodilletjies het pas weer begin aanpas na Januarie se vloedskade op die plaas. Foto verskaf.

Krokodilplaas loop weer deur

 

News  Date: 15 November 2013

 

“'n Windstorm het ons alweer getref – soos ‘n tornado!”

So het mev. Sandra Boshoff van die Ratho Krokodilplaas in die Pontdrif-area hierdie week gesê. Dit is die tweede keer hierdie jaar dat die plaas, wat op die oewer van die Limpoporivier geleë is, deur ‘n storm getref word.

Die boerdery het gedurende Januarie se vloede sowat 20 000 krokodille verloor, nadat vloedwaters die krokodiltonnels oorstroom het en al die klein krokodille meegesleur het. 

Volgens Sandra het ‘n verskriklike hael- en windstorm Vrydag, 8 November, oor die plaas getrek. “Ons kinders wat op die buurplaas bly kon nie glo daar was ‘n storm op die plaas nie; by hulle het dit glad nie gereën nie,” het Sandra gesê.

Buiten vir die krokodilhokke wat omgewaai is, het boomtoppe ook in die slag gebly. “Ek is baie dankbaar my ou huis se dak is nog ongeskonde,” het Sandra gesê. Haar tuin het na die storm soos ‘n slagveld gelyk van al die afgebreekte bome en takke.

Sandra sê dat verlede week se storm hulle sterk herinner het aan 2000 se vloede. Gedurende 2000 is Ratho ook in November deur ‘n verskriklike haelstorm getref. Soveel so, dat hulle destyds hulle lemoen-oes aan die sapfabrieke moes lewer omdat die vrugte oortrek was van die merke.

Die Ratho Krokodilplaas boer regdeur die jaar met tussen 15 000 en 18 000 krokodille. Na Januarie se vloede is die hokke oorgebou, en dit is hierdie hokke wat nou weer platgewaai is. Sandra kon nie ‘n presiese beraming gee van die skade wat aangerig is nie, maar het wel aangedui dat die herstel van die hokke ‘n klomp geld gaan kos. “Dit is maar deel van die speletjie – betaal en werk – maar boer wil ons boer,” het sy gesê.

Volgens wat vasgestel kon word, het verlede Vrydag se storm nie so ‘n wye impak gehad soos voorverlede week se twee-dae-lange storm nie. Enkele plase in die Waterpoort-area is getref, maar dié keer net deur hael. Ander plase, soos die van Schuldpad Boerdery, het berig dat hulle swaarder in die eerste storm as in die laaste storm getref is.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines