

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 November 2013
Die Makhado Munisipaliteit is tans besig met die opstel van ‘n nuwe waardasierol in Makhado (Louis Trichardt) waarvolgens nuwe eiendomsbelasting bepaal sal word.
‘n Nuwigheid is dat van die waardeerders wat tans met hul markwaardasies besig is, ‘n kamera uithaal en foto’s in huise neem. “Ons het klagtes in hierdie verband gekry. Ons voel dat dit onaanvaarbaar is dat foto’s in huise geneem word, aangesien dit ‘n sekuriteitsrisiko vir mense inhou,” het me. Inga Gilfillan, voorsitter van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) gesê. Die SBBV het ‘n brief in hierdie verband aan die munisipaliteit gerig. Die brief is gedateer 25 Oktober en is per hand afgelewer. Die SBBV het nog nie ‘n antwoord ontvang nie.
Gilfillan het inwoners gemaan om die waardeerders in hul huise toe te laat, maar slegs wanneer hulle seker is van die persoon se identifikasie. Sy het ook gevra dat hulle die persoon deur die huis vergesel. Met die samestelling van die vorige waardasierol was een van die SBBV se besware dat die waardeerders nie in die erwe ingekom het nie. “Die waardeerders is al fluks besig, maar ons wil graag weet wie hierdie persone is, wat hulle kwalifikasies is en hoe hulle uiteindelik by die bedrag uitgekom het waarteen die eiendom waardeer is,” sê Gilfillan.
Me. Jana Smith, wat namens die Soutpansberg Sakekamer op die waardasiekomitee dien, sê dat die munisipale waardasie ‘n markwaardasie is, waar daar nie in elke liewe huis ingegaan hoef te word nie en waar daar ook van blokwaardasies gebruik gemaak mag word. “Ek kan nie sien waarom daar foto’s geneem moet word nie. Dit is ‘n algemene waardasie waar daar gekyk word na die tydperk waarin die huis gebou is, die toestand van die huis, die oppervlakte en die grondwaarde wat veral deur die omgewing bepaal word. Foto’s word soms geneem wanneer die individu self ‘n waardasie aanvra, wat nie in hierdie geval geld nie,” sê Smith en voeg by dat ‘n markwaardasie verband hou met die huidige waarde van die eiendom. Dit is die prys waarvoor die eiendom tans sal verkoop, sou dit onmiddellik in die mark kom. Daar is ook vervangingswaardasies, wat hoër as die markwaardasie is, en beleggingswaardasies, wat veral vir kommersiële geboue gebruik word.
Smith sê dat die enigste geswore waardeerder in die dorp Kern en Dekker prokureurs en Suwil Rudolph by Van Heerden en Rudolph Prokureurs is. “Ons vertrou dat die munisipaliteit hulle huiswerk gedoen het en geregistreerde waardeerders gekry het. Ondervinding speel egter ook ‘n baie groot rol,” sê Smith, wat al vir 30 jaar vir kliënte raad gee oor waardasies.
Teen druktyd het die munisipaliteit nog geen vrae oor die waardeerders en die waardasierol geantwoord nie. Smith sê dat, volgens haar inligting, die waardasie periode oor vier maande strek en dat die nuwe waardasierol eers in volgende jaar beskikbaar sal wees. “Ek sit op die komitee wat sal kyk of die waardasies markverwant uitgevoer is,” sê Smith. Sy sê dat met die vorige waardasierol die nuwe uitbreiding met sowat 60% onderwaardeer en skuldbult met 80% oorwaardeer is.
Volgens die SBBV is baie skriftelike besware teen die eiendomswaardasie van die vorige waardasierol ingedien. “Ongelukkig het die munisipaliteit slegs gereageer in gevalle waar ‘n addisionele onafhanklike waardasiesertifikaat op eie onkoste bekom is,” sê Gilfillan.
Die vorige waardasierol wat sowat ses jaar gelede opgestel is, was een van die hoofoorsake van die jarelange dispuut wat seur die SBBV teen die munisipaliteit gevoer is.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
