

ADVERTISEMENT:

News Date: 18 November 2013
Vier leerders van Laerskool Louis Trichardt se Bergvliet Leersentrum se kunswerke is deur Santam gekies om deel te vorm van die Santam Kinderkuns-kompetisie se aanlyn kunsuitstalling. Slegs 200 kunswerke vanuit meer as 4 770 inskrywings is vir dié uitstalling gekies.
“Ek was baie geskok toe ek uitvind dat ek een van hulle is!” sê Jeandré Fourie (13). Dié 200 jong kunstenaars gaan elkeen ‘n medalje en ‘n sertifikaat ontvang.
Die voordele wat die kunsklasse vir die leerders van Bergvliet inhou, is egter ver meer as dié belonings. “Hul kunsonderwyser, Mariza, leer vir hulle dat jy nie ‘n fout kan maak nie. Hulle kyk nou met ander oë na dinge. Die kinders se selfbeeld het geweldig verbeter. Dis fantasties wat die kunsklasse vir hulle doen,” sê me. Adele Turner, onderwyser by Bergvliet.
Me. Mariza Joubert van KidzArt kunsskool in die dorp beskou haar kunslesse vir al die Bergvlietkinders as haar gemeenskapsprojek. “Ek het net ‘n vuurhoutjie by hulle aangesteek. Hulle leer en luister aandagtig, vat dit wat hulle geleer het en gebruik dit en teken net al hoe meer en meer. Dit is wat ‘n mens wil hê! Hulle geniet dit om uiting te gee aan hulle eie kreatiwiteit.
Die weeklikse uitstappie na my kunsskool is ook baie lekker vir hulle,” sê me. Joubert, wat nie net trots is op die vier wenners nie, maar op al die kinders in haar twee Bergvlietklasse. Sy gee al die afgelope twee jaar vir hulle klas, maar het vanjaar vir die eerste keer werke vir die Santamkompetisie ingeskryf. Die vier wie se kunswerke die uitstalling gehaal het, is Johannes van Tonder, Belinda de Lange, Johané Wiesner en Jeandré Fourie.
Alle prente wat ingestuur is, bly Santam se eiendom en kan gebruik word vir bemarking of verkoop word om kuns in agtergblewe gemeenskappe te bevorder. Die twaalf bestes kan uiteindelik ook vir ‘n kalender gebruik word.
Ander Triegies wie se kunswerke ook vir die uitstalling gekies is, is Minelise Reynders en Suandrie Corbett. Die aanlyn kunsuitstalling sal vanaf Januarie volgende jaar te siene wees op Santam se kinderkunsgalery by www.santam.co.za.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
