ADVERTISEMENT:

 

Onwettige jagters sorg vir duisende rande se skade

 

News  Date: 12 April 2002

 

LOUIS TRICHARDT – Dit wil voorkom asof boere en beskermingsdienste se stryd teen onwettige wild- en veestropery nog lank nie iets van die verlede is nie.

Die afgelope week het ‘n boer van die omgewing, mnr. Tobie Steenkamp van die plaas Skaaphoek, sowat R32 000 se skade gely nadat onwettige jagters sewentien van sy beeste doodgemaak en geslag het. In hierdie geval was lede van die Soutpansberg Kriminele Ondersoekdiens (SKO), in samewerking met die Veediefstaleenheid, gelukkig genoeg om twee verdagtes in verband met die saak aan te keer. Die twee verdagtes is by hul wonings in Mailaskop aangekeer en kapmesse, vleis en bebloede kledingstukke is in hul besit gevind. Teen druktyd het hulle egter nog nie in die hof verskyn nie.

Sedert die begin van die jaar het lede van SKO reeds twintig arrestasies uitgevoer met betrekking tot onwettige wild- en veestropery. Die sake het verband gehou met onwettige jagtogte in die Bandelierkop-, Mailaskop-, Vleifontein- en Elim-areas. Twee koedoes, vier vlakvarke, ‘n eland, waterbok, rooihartbees, rooibok en duiker is tydens dié strooptogte doodgemaak. In meeste gevalle is draadstrikke gebruik, alhoewel daar ook van jaghonde gebruik gemaak word om vee en wild aan te keer en dood te maak.

Bitter min mense blyk bewus te wees van die geweldige ekonomiese las wat onwettige jagters op die skouers van wild- en veeboere plaas. Dit wil egter voorkom asof howe baie strenger gaan begin optree teen onwettige jagters. ‘n Man, die 51-jarige Charlie Manganyi van Elim, is Maandag in die plaaslike landdroshof skuldig bevind op klagte van onwettige jag en die besit van draadstrikke, nadat hy verlede week op die plaas van mnr. Barries Barnardt aangekeer is. Op die klag van onwettige jag is Manganyi gevonnis tot ‘n R2 500 boete of drie maande gevangenisstraf, terwyl hy ‘n R 1 000 boete of twee maande gevangenisstraf opgelê is vir die besit van draadstrikke. Manganyi het voor Landdros Marcel Roos verskyn.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines