ADVERTISEMENT:

 

Wyle mnr. Freek van Niekerk (69). Foto verskaf.

Voormalige raadsamptenaar en brandweerhoof oorlede

 

News  Date: 21 November 2013

 

Talle inwoners van die Soutpansberg het die afgelope week met hartseer en skok verneem van die dood van mnr. Freek van Niekerk (69) op 13 November.

Oom Freek, soos hy alom bekend gestaan het, was vir jare verbonde aan die destydse Louis Trichardt Munisipaliteit. Hy het in 1973 as assistent stadsekretaris by die munisipaliteit begin werk en later jare ook as adjunk stadsekretaris. Hy was ook die Raad se interne ouditeur. Van die jonger garde sal hom egter beter onthou vir sy jarelange posisie as hoof van die plaaslike brandweer, ‘n pos wat hy in 1994 aanvaar het.

Oom Freek het sedert 2009 by sy dogter Amor, haar man Tyron en hul drie kinders in Centurion gewoon. “Elke dag saam met hom was ‘n seën. Ons is bitter bevoorreg gewees om saam met hom ‘n tuiste te kon deel vir die afgelope vier jaar,” sê Amor. Sy sê haar pa se gesondheid was die afgelope paar jaar nie na wense nie. Oom Freek het ‘n paar jaar gelede sy regterbeen verloor as gevolg van slegte bloedsirkulasie. Hy het ook ‘n hartaanval gehad, ‘n hartomleiding ondergaan en meer onlangs hierdie jaar is hy met gevorderde prostaatkanker gediagnoseer.

Amor sê dat haar pa en man die afgelope jaar hard gewerskaf het om ‘n werkswinkel vir hom vir sy stokperdjies by die huis tot stand te bring. “Die wat my pa geken het, het geweet dat sy hande vir niks verkeerd gestaan het nie. Hy was ‘n liefhebber van houtwerk, huishoudelike herstelwerk en wapens. Sy  werkwinkel is onlangs voltooi. Dit was sy droom vir sy oudag, maar hy sal nou nooit die geleentheid kry om houtwerk saam met sy skoonseun en kleinkinders te doen nie,” sê Amor.

Oom Freek word oorleef deur sy twee susters (Marina en Sheilagh), dogter Lorinda en skoonseun Marius Els (met Christopher, Matthew, Hannah en Liam), sy oorlede dogter Wilna Wright se twee dogtertjies (Abigail en Michaela) en Amor en Tyron en hul kinders Emily, Abigail en Isobel.

“Ons gaan hom vreeslik mis! Ons vind vertroosting daarin dat hy by die huis tot sterwe gekom het tussen familie. Sy afsterwe laat ‘n groot leemte in ons harte, maar ons berus ons daarby dat hy nie meer pyn ervaar nie en dat sy siel tot ruste kom waar hy graag wil wees,” sê Amor. Sy het haar dank uitgespreek teenoor almal wat tot dusver boodskappe van medelye gestuur het. Indien daar mense is wat graag met die familie wil kontak maak, kan hulle Amor skakel by tel. 084 207 4533 of stuur ‘n e-pos na [email protected]

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines