

ADVERTISEMENT:

News Date: 21 November 2013
Die bekende en alombeminde tannie Esther Kirsten, merkwaardige sakevrou en meelewende inwoner van Makhado (Louis Trichardt), is Maandag (18de) by haar kinders in Pretoria oorlede, ‘n paar dae voor haar 91ste verjaardag.
Tot op 87-jarige ouderdom was tannie Esther nog voltyds bedrywig in die Kirsten-gesin se skryfbehoefte onderneming op Makhado (Louis Trichardt). Sy is ‘n tyd gelede gediagnoseer met CML, ‘n vorm van leukemie, wat haar kragte geleidelik laat afneem het.
Esther Miriam (née Keogh) is op 22 November 1922 gebore as tweede-oudste van vyf kinders. Haar pa, Samuel Saunders Keogh, was ‘n Ier wat saam met sy broer omstreeks 1900 na Suid-Afrika gekom het.
Tannie Esther se ouers is altwee in 1932 oorlede. Sy is toe na ‘n weeshuis in Kimberley. In 1940 het sy in die Paarl gematrikuleer en was van 1941 in Pretoria, waar sy Dick Kirsten in die kerkkoor van die NG Pretoria-Wes gemeente ontmoet het. Hulle is op 3 November in 1945 getroud.
Die egpaar het in 1958 na Louis Trichardt gekom, waar hulle verskeie eiendomme aangeskaf en ‘n drukkery en skryfbehoeftewinkel begin het. Tannie Esther was sedertdien tot 2010 nog voltyds bedrywig met die skryfbehoefte onderneming. Haar eggenoot, oom Dick, is in 1997 oorlede.
Benewens hul sakebelange was die egpaar al die jare aktief betrokke by kerkbedrywighede as meelewende koorlede, ‘n reeks kerkraadskommissies en kategese-onderrig in die gemeente NG Soutpansberg. Tannie Esther was ook vir jare sekretaresse van die plaaslike tennisklub en was tuis lief vir haar plante en blomme.
“Sy het ‘n vol lewe gelei - ‘n mens met baie liefde,” onthou haar seun Johan, sakeman wat steeds op die gesinsperseel Ocean Basket bedryf. So onthou haar personeellede, kennisse en klante ook haar kundige bystand, vriendelikheid en deernis sonder onderskeid teenoor verskillende bevolkingsgroepe.
Tannie Esther was die afgelope tyd tuis by haar ander twee kinders, Bessie en Dalene. Sy laat ook 12 kleinkinders en 6 agterkleinkinders agter.
Die begrafnis is 09:30 en die begrafnisdiens is 11:00 Saterdagoggend uit die Skuilkrans Kerk in Pretoria. ‘n Spesiale dankdiens sal ook vir haar gehou word om 10:00 Vrydag (22ste) vanuit die NG Kerk Soutpansberg. Die diens sal gelei word deur ds. Jan Pretorius.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
