

ADVERTISEMENT:

News Date: 22 November 2013
Bergcare is ‘n nuwe geregistreerde nie-winsgewende diensorganisasie in Makhado (Louis Trichardt).
Hierdie organisasie het verlede Donderdag ‘n opedag vergadering aangebied om hulself aan die gemeenskap bekend te stel. Die hoofdoel van Bergcare is om ‘n daadwerklike verskil te maak in die gemeenskap ten opsigte van armoedeverligting en –voorkoming. “Ons wil duplisering voorkom deur koördinering, kommunikasie en deursigtig te wees,” sê Bergcare.
Oorspronklik het Bergcare ontstaan vanuit die NG Kerk Moedergemeente, wat betrokke is by verskeie gemeenskapsorganisasies en –projekte. Van hier het dit vinnig duidelik geword dat daar ‘n groot behoefte is vir ‘n sambreeldiensorganisasie, sodat hulpbronne vanuit die gemeenskap beter benut en bestuur kan word.
“Die armoede vraagstuk in ons gemeenskap is besig om eksponensieel te groei en ons kan nie langer maar net sit en toekyk, blameer of kritiseer nie. Wat ook al die oorsake is, dit gaan nie vanself verdwyn nie. Ons sal vanuit gemeenskapsgeledere ‘n daadwerklike poging moet aanwend om ‘n verskil te maak,” het Bergcare gesê.
Dit is om hierdie rede dat Bergcare as ‘n nie-winsgewende organisasie geregistreer is, wat hulle in staat stel om hulpbronne vanuit alle oorde in te samel en te benut. “In stede dat ‘n besigheid vir ‘n klomp verskillende liefdadigheidsorganisasies geld gee, kan hulle eerder hulle gewig by een organisasie ingooi,” het mnr. Andries Smal, een van Bergcare se stigterslede, gesê. Hy het vertel van kospakkies, wat saamgestel word uit donasies vanuit die gemeenskap, party keer drie keer by dieselfde gesin afgelewer word. “As ons ‘n databasis kan saamstel van al die mense in die dorp wat kospakkies nodig het, kan ons hierdie hulpbron baie beter benut sodat almal wat kos nodig het dit kry,” het Smal verduidelik.
Tans het die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF), die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) en die NG-Kerke hul gewig by Bergcare ingegooi. “Ons nooi ander diens- en liefdadigheidsorganisasies uit om ook by ons aan te sluit,” het Smal gesê.
Bergcare help tans hierdie organisasies uit met hul kospakkies en bejaarde sorg. Daar word ook hulp verleen aan die Tshitandani Kinderhuis. Tydens die vergadering het Bergcare se bestuurslede ook hulle toekomsplanne bekend gemaak. Daar word onder andere beplan aan ‘n huis waar behoeftige bejaardes versorg kan word, ‘n tweedehandse klerewinkel en ‘n gemeenskapsambulansprojek.
Vir meer inligting of om betrokke te raak by Bergcare, kan Eldine Peli geskakel word by 082 855 1108, Andries Smal by 082 899 9543 of Lucas Vermeulen by 083 297 6924.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
