ADVERTISEMENT:

 

Wyle Willie Schutte. Foto verskaf.

Landbousektor verloor groot pionier

 

News  Date: 22 November 2013

 

Die landbousektor het ‘n groot pionier verloor met die afsterwe van oom Willie Schutte.

Oom Willie was die eerste landboukundige om die potensiaal van makadamiaboerdery in die Soutpansberg raak te sien en het ‘n groot rol gespeel om makadamiaboerdery in die land te vestig, sodat Suid-Afrika vandag die tweede grootste produsent van makadamianeute in die wêreld is.

Willem Johannes Schutte is op 1 April 1934 in die destydse Pietersburg-omgewing gebore en het daar gematrikuleer. Hy behaal sy B.Sc. Agric aan die Universiteit van Pretoria en verwerf ook ‘n meestersgraad in landbou. Hier ontmoet hy vir Tillie Roux en hulle is op 5 November 1960 getroud. Drie kinders, Marius, Charlé en Wilma, is uit die huwelik gebore.

Willie het graag sy landboukennis met ander boere gedeel en werk van 1965 tot 1967 as landbou-voorligtingsbeampte in die Soutpansberg-omgewing nadat hy dieselfde taak in Nelspruit verrig het. In die sestigerjare koop hy ‘n gedeelte van die plaas Piesanghoek op die Witvlagpad en pas sy landboukennis prakties toe.

“Ek sal hom onthou as ‘n mens wat gelewe het om te boer. Hy was so gelukkig om elke dag te kon doen waarvoor hy lief was en wat hy regtig geniet het,” sê sy eggenote, tannie Tillie.

Op Piesanghoek het oom Willie die eerste kommersiële makadamiakwekery begin en hy het die verbouing van makadamias vir boere in die Witvlag- en Levubu-omgewing aanbeveel. Hy plant ook grenadellas en avokados op Piesanghoek.  In 1970 koop oom Willie ‘n plaas naby Levubu en bou ook hierdie plaas van niks af op. Hy was lief om gronddamme te bou waaruit hy besproeiing vir sy bome kon voorsien. Later jare vergroot hy sy boerdery deur meer grond aan te koop en te ontwikkel.

In Levubu plant hy ook kontantgewasse soos tamaties en pynappels, maar spesialiseer in die verbouing van avokados en makadamias. “Baie makadamiaboompies het oor die jare uit sy kwekery gevloei. Boere het begin belangstel in sy aanbevelings en na die eerste werklike makadamia boerdery begin kyk. So het die liefde vir makadamiaboerdery na nog subtropiese areas in Suid-Afrika versprei,” sê Marius. Oom Willie het sy landboukennis verder gedeel, terwyl hy in die sewentiger- en tagtigerjare lid was van die Venda Ontwikkelingskorporasie. “Gedurende hierdie tyd was hy ‘n spesialis plaaswaardeerder in subtropiese gebiede dwarsoor die land,” sê Marius.

Willie was ‘n sportman, wat rugby en tafeltennis op universiteit gespeel het en die tennisraket vir baie jare geswaai het. Hy het heelwat eksotiese voëls aangehou en die vlieg van wedvlugduiwe was sy gunsteling stokperdjie sedert sy kinderjare.

In 2004 is oom Willie met vroeë Alzheimers gediagnoseer en hy het besluit om af te tree en op die dorp te kom bly. Hy geniet sy duiweboerdery, die aanteel van goeie duiwe en wedvlugte voluit. Die laaste drie jaar het sy gesondheid vinnig agteruit gegaan. Tannie Tillie het hom getrou versorg. Die laaste week van sy lewe het hy in die Zoutpansberg Privaathospitaal deurgebring en is op 16 November in die vroeë oggendure aan longontsteking oorlede. Hy word oorleef deur sy vrou, drie kinders en ses kleinkinders.

‘n Dankdiens vir die lewe van Willie Schutte word op Saterdag, 23 November, om 11:00 in die NG Kerk Soutpansberg-gemeente gehou.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines