ADVERTISEMENT:

 

Generic image

Sinode beslis ten gunste van dominee

 

News  Date: 22 November 2013

 

Die Noordelike Sinode van die NG Kerk het verlede week hul bevindinge bekend gemaak in die ondersoek na die optrede van ‘n plaaslike leraar, dr. Phillip Venter.

Dr. Venter, leraar van die Soutpansberg-gemeente, is daarvan beskuldig dat hy pastorale grense oorskry het, asook dat hy leuens vertel het en deur sy optrede die gemeente verdeel het.

Die eerste klag het gehandel oor ‘n insident waar dr. Venter die perke van vriendskap sou oorskry in ‘n vriendskapsverhouding met ‘n vroulike lid van die gemeente. Dr. Venter het ontken dat daar ooit ‘n onbehoorlike verhouding was, maar erken dat hy deur sy optrede sy eie en ‘n ander huwelik in gevaar gestel het. Die sinodale kommissie het na aanleiding van sy belydenisse voor die kerkraad en voor die ondersoekspan besluit om die saak as afgehandel te beskou.

Wat die klagtes rondom die leuens en bedrieglike optrede betref, het die sinodale kommissie hom onskuldig bevind op al die aanklagte. Die kommissie het geluister na verskeie aanklagte, onder andere dat hy die kerkraad onder ‘n wanindruk gebring het deur voor te gee ‘n advertensie vir ‘n jeugleraarspos is geplaas. Dit was blykbaar gedoen om sy dogter geleentheid te gee om aansoek te doen vir die pos. Die kommissie het tot die slotsom gekom dat hy verkeerdelik gesê het die advertensie is geplaas, maar het dit as ‘n menslike swakheid beskryf en nie ‘n tugwaardige sonde nie.

Die kommissie het verskeie van die ander getuies as ongeloofwaardig beskryf en ook skerp kritiek uitgespreek teenoor die wyse waarop die aanvanklike ondersoek deur die Ring van Louis Trichardt hanteer is. Dr. Venter het sy aanvanklike skuldigbevinding deur die Ring op appèl na die Sinode geneem. Die Sinode het in sy guns beslis en bevind hy is aan ‘n onbillike verhoor onderwerp.

Die voorsitter van die Ringskommissie, ds. Petrus Kriel, het gereageer en gesê die Ringskommissie sien volgende week die Regskommissie van die Sinode om die uitspraak te bespreek asook die proses wat gevolg is.

 

Written by

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines