

ADVERTISEMENT:

News Date: 22 November 2013
Die toestand en beheer van die munisipale stortingsterrein net buite Makhado (Louis Trichardt) is sake wat deur die burgerregte-organisasie AfriForum ondersoek word.
AfriForum het die Makhado Munisipaliteit se stortingsterreinpermit en -bestuursplan aangevra in ‘n brief, gedateer 28 Oktober, waarop geen antwoord van die munisipaliteit ontvang is nie.
In ‘n tweede skrywe, gedateer 11 November, is die versoek herhaal en ander dokumentasie is ook aangevra, nadat AfriForum kennis geneem het van die nuwe stortingsterrein wat deur die munisipaliteit beoog word. AfriForum versoek ‘n bestekverslag van die voorgestelde stortingsterrein, asook aksieplanne wat sal verseker dat die nuwe terrein beter as die oue bestuur sal word. Die brief, geteken deur mnr. Morné Mostert, AfriForum se organiseerder in Limpopo, sluit af met die woorde: “U geskrewe antwoord word verwag voor 15 November. Indien geen antwoord ontvang is teen daardie datum nie, sal ons regspan instruksie ontvang om die saak te ondersoek.”
Die toestand by die stortingsterrein wek al kommer vir meer as ‘n dekade. In die eerste helfte van Oktober vanjaar het die toestand egter so verswak dat selfs die Vondelingpad wat verby die stortingsterrein loop, toe was onder vullis. Klaarblyklik het die Departement van Paaie en Vervoer die pad met ‘n padskraper oopgemaak, sodat motoriste die pad kon gebruik.
Die toegangspad na die stortingsterrein was behoorlik begrawe onder die vullis en mense wat vullis wou stort, moes van ‘n ingang verderaan gebruik maak.
Teen die einde van Oktober het dit aansienlik beter gelyk, soveel so dat een van die klaers, mnr. Piet du Toit, die Zoutpansberger geskakel het om te kom kyk hoe goed dit nou lyk. Dit was nadat die munisipaliteit hulp ingekry het en tru-grawers die ingangspad oopgestoot het en dele gelykgemaak en met grond toegestoot het. Dit is egter iets wat volgens wetlike voorskrifte daagliks moet gebeur.
Nog ‘n voorskrif is dat diere-afval nie op die terrein gestort moet word nie. Hierdie week is ‘n bakkie gesien wat diere-afval op die terrein uitgooi.
Du Toit, wat op ‘n daaglikse basis tuinvullis by die stortingsterrein aflewer, sê dat die twee gedeeltes waar die tuinvullis gestort moet word, verlede week weer vol was. "Sondag was daar ‘n masjien wat ingekom het, een uur gewerk het en die een gedeelte van die tuinvullisplek skoongemaak het. Die klein masjientjie van die munisipaliteit staan al die afgelope twee maande op een plek. Dit is een van twee masjiene wat daar staan en nie kan werk nie. Dit lyk of hulle na-ure masjiene inkry om iets te kom doen,” het Du Toit gesê. Op 11 Oktober het die munisipaliteit ontken dat hulle tru-grawers buite werking is.
Brande wat op die stortingsterrein voorkom, is nog ‘n probleem. Inwoners van die omliggende gebied, wat die aangehoudenes, bewaarders en personeel van die Kutama Sinthumule Maksimum Sekuriteitsgevangenis insluit, verstik in die ongesonde rookwolke wanneer die vullis onwettig aan die brand gesteek word. Die munisipaliteit is gevra of hulle ‘n ondersoek geloods het na die gereelde brande of brandstigting by die vullisterrein en wat die uitslag daarvan was, indien so ‘n ondersoek gedoen is. Die munisipaliteit het op 12 November geantwoord dat die feit dat die vullis nie toegemaak word nie ‘n bydraende faktor is tot die “spontane uitbraak van brand, asook die rommelgrawers (scavengers) wat altyd daar gaan kyk vir herwinbare materiaal.” Een inwoner het opgemerk dat dit nie sin maak dat die rommelgrawers hulle eie bron van inkomste aan die brand steek nie. Die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, het voorts gesê dat die munisipale tender om kompakteertoerusting aan te skaf, gefinaliseer is. “Ons is in die proses om nuwe kompakteermasjiene te koop. Dus sal die daaglikse kompaktering, soos deur die wet voorgeskryf, uitgevoer word," het Bobodi gesê.
Dié oorvol stortingsterrein moet egter gesluit en gerehabiliteer word sodra die nuwe stortingsterrein op die Vivo-pad ontwikkel is. Die DA het reeds in 2010 gekla dat die uitgerekte proses om ‘n nuwe stortingsterrein te ontwikkel, te wyte is aan oneffektiwiteit aan die munisipaliteit se kant. Intussen het Bobodi hierdie week bevestig dat ‘n diensteverskaffer aangestel is om die nuwe stortingsterrein te ontwikkel. Hy het die versoek om die naam van die maatskappy te verskaf, geïgnoreer.
AfriForum is nou alreeds bekommerd oor die bestuur van die nuwe stortingsterrein. “Hoe is dit moontlik dat ‘n munisipaliteit ‘n nuwe stortingsterrein kan oorweeg wanneer die munisipaliteit nie eers een stortingsterrein volgens die voorskrifte van die wet kan bestuur nie?” het Mostert in ‘n persverklaring gevra. AfriForum sê dat hulle antwoorde soek voordat die volgende vulliskrisis aanbreek.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
