ADVERTISEMENT:

 

Hierdie foto is aan die begin van Oktober geneem in Groblerstraat, waar daar onwettig motors gediens word langs Capricorn Spares.

Sypaadjie-"mechanics" floreer, terwyl omgewing prys betaal

 

News  Date: 25 November 2013

 

Alhoewel daar tans ‘n oorlog woed in die Soutpansberg-streek oor die besoedeling wat steenkoolmyne kan veroorsaak, is daar reeds ernstige besoedeling hiér in Makhado (Louis Trichardt) aan die gang.

Sedert die begin van die jaar het daar orals in die dorp sypaadjie-motorwerkswinkels begin opspring. Die Zoutpansberger het een só ‘n “motorhawe” gedurende Oktober dopgehou. Hierdie betrokke werkswinkel strek vanaf die hoek van Erasmusstraat tot in Groblerstraat. Meeste van die herstelwerk vind plaas langs Capricorn Spares.

Hier word enige voertuig, van die heel kreupeles tot die meer padwaardiges, gediens en herstel. Al wat kliënte moet doen is om self die onderdele te koop, sodat die tegnikus die voertuig kan herstel. As die transaksie beklink is, word die voertuig sommer net daar op die sypaadjie uitmekaar gehaal en herstel.

Een van die jong werktuigkundiges, wie se identiteit bekend is aan die koerant, het vertel dat hy op ‘n goeie dag aan drie tot ses voertuie werk. Die bedrae wat hy verdien is egter baie wisselvallig. Die man sê hy vat maar die geld wat sy kliënte nog oor het, nadat hulle onderdele moes koop. So werskaf hy al nege maande langs Capricorn Spares. Hy ry elke dag van Thohoyandou af om hier te kom werk. Die man het op ‘n vraag oor sy kwalifikasies gesê hy het al jare se ondervinding in die motorbedryf. “Waar anders moet ek gaan werk? Ek voer ‘n heerlike bestaan,” het hy gesê.

Die eienaars van Capricorn Spares is ook genader oor die situasie. Volgens mev. Hajra van Capricorn maak die manne nie ‘n oorlas van hulself nie. “Hulle is goeie mense, wat uit desperaatheid hier begin werk het, eerder as om te steel,” het sy gesê.  Sy het bygevoeg dat sy deeglik bewus is van die onwettigheid waarin dié mans hul besigheid bedryf. “Die wet is die wet en jy kan nie verby dit kom nie, maar waar gaan die mense heen? Ten minste steel hulle nie en hulle is goed vir my besigheid,” het sy gesê.

Hierdie self-erkende tegnici is egter besig om groot én langtermyn skade aan die omgewing aan te rig. Een van Makhado (Louis Trichardt) se toonaangewende omgewingsvriendelike motorhawes, Werda Toyota, het meer vertel hieroor.

Mnr. Charl Venter, diensbestuurder by Werda, het die situasie as skokkend beskryf. Net die olie, teenvriesmiddel en paraffien wat daar op die grond uitgemors word, is lewensgevaarlik vir mense en diere. Hierdie middels bevat glikol, wat uiters giftig is. “Dink net wat die gevolge kan wees as dié goed in ons waterstelsels kom,” het Venter gesê. Buiten vir die gemors, het Venter gesê, is dit ook ‘n kriminele oortreding om vuil olielappe en ander vullis net sommer so op die sypaadjie weg te gooi. Daar moet streng volgens omgewingswetgewing van voertuigvullis ontslae geraak word.

Nog rede tot kommer is dat hierdie selfaangestelde tegnici motoriste se lewens in gevaar stel om sonder die nodige opleiding, waarborge of verskering wat die normale geregistreerde motorhawens bied, te werk. “Besef daardie man dat hy van moord aangekla word, as iemand se voertuig in ‘n ongeluk betrokke is weens ‘n fout wat hy kon gemaak het,” het Venter gevra.

Omrede niemand buiten ‘n gelisensieerde smous, volgens die bywette van die Makhado Munisipaliteit, enige artikel in, op of oor enige straat, straatreserwe, openbare of private oop terrein of van enige terrein buite ‘n goedgekeurde gebou wat vir die algemene publiek toeganklik is, mag uitstal of verkoop sonder toestemming nie, is die munisipaliteit genader vir kommentaar. Verder is dit ook ‘n oortreding van die  bywette om enige goedere of materiaal “op of oor ‘n ryvlak of sypaadjie [te] plaas, aflaai of vervoer” tensy toereikende voorsorgmaatreëls getref is om skade te beperk. ‘n E-pos is op 21 Oktober aan die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, gestuur waarin hy gevra is om kommentaar te lewer hieroor.

Drie dae later het Bobodi geantwoord dat hy dankbaar is vir die koerant en publiek wat sulke oortredings van die bywette uit wys, want dit stel die munisipaliteit in staat om drasties op te tree teen die oortreders. “Die munisipaliteit dwing sy bywette stiptelik af op enige iemand wat dit oortree,” het Bobodi op 24 Oktober in ‘n e-pos terug geantwoord.

Dit het sedertdien duidelik geword dat die munisipaliteit nie te stiptelik gehandel het met die situasie in Groblerstraat nie. Tans, amper drie weke later, word daar nog daagliks voertuie gediens vanaf die sypaadjie-werkswinkel.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines