

ADVERTISEMENT:

News Date: 29 November 2013
Voor verlede week se goeie reën was talle van Makhado (Louis Trichardt) se strate reeds ‘n gemors, maar ná die reën is dit nog ‘n groter gemors.
Derhalwe kan die reën sekerlik nie alleen die blaam dra vir die toestand van die paaie nie, want die reën is beslis welkom.
Te midde van verlede Donderdag se vroegoggend reënbui het die swak toestand van die dorp se strate ten minste vir een persoon ‘n groot skrik veroorsaak.
‘n Voertuigbestuurder van Coca-Cola Fortune het niksvermoedend met sy afleweringsbakkie in ‘n reuse slaggat ingery, nogal in Songozwistraat, een van die dorp se hoofstrate. “Ek het nog gedink ek gaan hier by Game indraai, maar toe val die bakkie in die gat,” het mnr. Elias Muvhango aan die koerant gesê. Aangesien die hele pad onder water was, was dit vir hom onmoontlik om die slaggat te sien. Feitlik die hele agterste as van Elias se bakkie het in dié gat ingesink en hy moes inderhaas die bakkie laat insleep voordat die yskaste wat hy vervoer het ook in die slag gebly het.
Hierdie slaggat waarin Elias geëindig het, was nie die enigste van sy soort nie. Teen Saterdag het die klagtes ingestroom van nuwes. Op die hoek van Parksingel- en Tambotiestraat het die hele pad ‘n sloot ingeval, en plek-plek sinkgate gemaak. Hlanganani- en Kortstraat lyk nou erger as ooit. Die padwerke aan die sypaadjies in Munnik- en Stubbsstraat het ook ‘n groot terugslag belewe.
By navraag het mnr. Louis Bobodi, die Makhado munisipale woordvoerder, gesê die nuwe slaggate is te wyte aan die reën. Hy wou hom nie uitlaat oor spesifieke vrae rondom die materiale wat in die eersteplek gebruik is om die slaggate mee te vul nie. “Die persoon verantwoordelik is nie beskikbaar vir kommentaar hierdie week nie,” het Bobodi Dinsdag gesê. Bobodi het ook vrae geïgnoreer dat die slaggat in Songozwistraat veroorsaak is deur munisipale werkers wat ‘n week vantevore die pad opgekap het om aan ‘n verstopte rioolpyp te werk en die gat bloot met grond opgevul het.
Bobodi het wel bevestig dat die munisipaliteit tans besig is om die slaggate in die dorp te herstel. “Hou ons net dop; volgende week sal jy sien al die slaggate is reggemaak,” het Bobodi gesê.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
