ADVERTISEMENT:

 

Die welkome reën in Makhado (Louis Trichardt) het nie almal onkant gevang nie. Hierdie innoverende sambreelhuisie van 'n kartondoos gemaak het goed gewerk om droog te bly ...

Dit reën lekker

 

News  Date: 29 November 2013

 

Die heerlike reën wat in die Soutpansbergstreek begin het,  bring glimlagte, ‘n lafenis en die hoop vir meer …

“Ons is verheug! Net die feit dat die reën dit lekker koel gemaak het, tel al punte. Dit is ‘n lafenis na die hitte en die droogte. Ek sien sommer uit na die oestyd; daar is pragtige vrugset op die avokados en neute,” het ‘n boer van Levubu, mnr. Dries Joubert, op 21 November gesê te midde van ‘n lekker reënbui.

Teen Dinsdag het Levubu se reënneerslae vanaf verlede Woensdagnag gewissel van 30 tot 60mm. “Dit is die begin van die seisoen. Ons het in die algemeen sagte reën gehad en hier en daar ‘n swaar bui. Musina het 30 tot 40mm reën gehad,” het mnr. Stephen Hoffman, voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie (SDLU), op 22 November gesê.

Hoffman  het genoem dat Levubu se avokado- en neutbome wat later geblom het, mooi lyk. “In Julie en vroeg Augustus was daar probleme met swamme en die blokke wat vroeg geblom het, lyk nie mooi nie. Ons verwag normale oeste, nie groot oeste nie. Wat die piesangs betref, het die elektrisiteitsonderbrekings die piesangs baie skade aangedoen,” het Hoffman gesê .

Op die plaas Brakspruit by Bandelierkop is 116mm reën gemeet, 80mm by die plaas Rondehoek en 46mm by Groblersbult. “Die gras loop nou weer mooi uit. Die Bonsmaras se kondisie was af, maar gaan nou begin optel. Ek is baie positief dat ons nog reën gaan kry. Ons kort vinnig opvolgreën. Almal het nog baie reën nodig!” het mnr. Barries Barnard, voorsitter van die Bandelierkop Boerevereniging, gesê.

Me. Hester Bayes van die SDLU het berig dat Vivo teen verlede Donderdag 30mm gehad het, Waterpoort 30 tot 60mm, Alldays 20mm en Linton 25 mm lekker sagte reën.  Naby die Mara Navorsingstasie is vroeër 75mm ontvang en weer 45mm. Bayes berig dat Vivo se lande oorspoel is en dat aartappels uitgespoel het wat uitgehaal moet word. Die aartappels is reg vir uithaal, maar weens die kleigrond kan daar nie in die lande ingekom word nie.

Volgens mnr. Bastiaan Huyts van Mopani het daar 22mm reën by Mopani geval,  40mm by Bokmakierie en 60mm na Tshipise se kant toe. “In Mopani kry ons so 300mm reën per jaar. Ons het dus al amper 10% van ons reën gekry! Die veld begin verbeter. Die wild lyk nog redelik goed,” het Huyts gesê.

Mnr Monty  van Niekerk het  gesê dat Masekwa 50mm reën gehad het. “Die bome en bos begin groen word, maar die gras het opvolgreën nodig. Die wild lyk maar skralerig, maar sal nou begin aankom,” het Van Niekerk gesê.

In Makhado (Louis Trichardt) was November ‘n maand van welkome reënbuitjies, nadat September ‘n skrale 15mm en Oktober 22mm opgelewer het. Hierdie reënvalstatistieke is gekry by mnr. Willie Agenbacht,  wat daagliks om 18:00 lesings neem en dit getrou aanteken. Oom Willie se reënboekie wys dat daar  tussen 1 November en 18 November  vyf klein buitjies geval het, met ‘n totaal van 44mm. Op 21 November het oom Willie 63mm gemeet en op die 22ste 15mm. Teen Dinsdagaand (26ste) was daar darem 5mm in die reënmeter. “Ek dink die vooruitsigte vir nog reën is goed, veral as ek na die klein swart miertjies en die groot swart miere kyk. Hulle werk dat die stof so staan,” het oom Willie gesê.

Mnr. Cobus Olivier, ‘n wetenskaplike van die Suid-Afrikaanse Weerdiens en navorser oor weervoorspellings, het in Oktober en in November die drie-maandelikse voorspellings aangestuur. Die persentasie kans vir ‘n bo-normale reënval word aangegee. Bo-normaal word gesien in die lig van die gemiddelde reënval van baie jare. Die hoogste kans word aangegee as 50% en meer. In Oktober het die drie-maande voorspelling vir November, Desember en Januarie getoon dat die kanse in dele van die Soutpansberg-streek 50%  en meer is om ‘n bo-normale reënval te kry.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines