ADVERTISEMENT:

 

Minister moet besluit oor dorpsname

 

News  Date: 05 April 2002

 

LOUIS TRICHARDT – Die minister van Plaaslike Regering, mnr. Sydney Mufamadi, is gevra om uitsluitsel te gee oor die verandering van die dorp, Louis Trichardt, se naam na Makhado.

Die Soutpansbergse Sakekamer het verlede Woensdag (27ste) weer saam met lede van die Uitvoerende Komitee van die Makhado Munisipaliteit vergader ten einde 'n oplossing vir die geskil te vind. Die Sakekamer is nie ten gunste van die naamsverandering nie en voel die naam Louis Trichardt moet behoue bly.

'n Vorige gesprek tussen die Sakekamer en die Uitvoerende Komitee het weinig vrugte afgewerp en tot heelwat kwade gevoelens tussen die partye gelei. Die Uitvoerende Komitee het tydens dié vergadering onderneem om die proses eers te stop sodat alle belanghebbendes insette kan lewer. Van dié onderneming het nie veel gekom nie en die Raad het kort daarna hul aanbevelings aan die provinsiale minister deurgestuur.

Die Sakekamer het hulle toe tot president Thabo Mbeki se kantoor gewend, wat die aangeleentheid verwys het na mnr. Sydney Mufamadi, minister van Plaaslike Regering. 'n Gesprek tussen Sakekamerlede en die minister het kort daarna gevolg en hy het hulle versoek om weer die aangeleentheid met die plaaslike munisipaliteit te bespreek.

Verlede Woensdag se gesprek tussen die Uitvoerende Komitee en die Sakekamer het egter nie veel opgelewer nie. Die burgemeester, rdl. Brighton Tlakula het aangevoer dat 'n besluit reeds geneem is en dat dit nou in die hande van die minister is.

Die Sakekamer sowel as die Makhado Munisipaliteit sal terugvoering oor die vergadering aan mnr. Mufamadi verskaf. Die Sakekamer het in hul voorlegging aan die Pleknaamraad aangevoer dat daar nie genoegsame rede vir 'n naamsverandering is nie. Dit sal ook, volgens die Sakekamer, lei tot verwarring aangesien daar reeds 'n dorp bestaan met die naam, Makhado.

Altesaam 14 aanbevelings vir nuwe plekname is deur die Limpopo Provinsie aan die Suid-Afrikaanse Pleknaamraad gestuur. Op twee na is dié aanbevelings deurgestuur na mnr. Mufamadi. In die geval van Hoedspruit moet die munisipaliteit nog oor 'n nuwe naam besluit, terwyl 'n twispunt ontstaan het oor Duivelskloof se voorgestelde naam, Ngoako Ramalepe. Daar is blykbaar nie eenstemmigheid in die Uitvoerende Komitee of dié naam die mees geskikte is nie. Ramalepe was blykbaar 'n kader uit die gebied wat tydens die "struggle" dood is.

Die name wat reeds aan die Pleknaamraad voorgelê is, sluit in Bela-Bela vir Warmbad, Modimole vir Nylstroom, Mookgopong vir Naboomspruit, Mokopane vir Potgietersrus, Polokwane vir Pietersburg, Musina vir Messina en Lepalale vir Ellisras. Nog name waaroor die Raad moes beslis, is Morbeng vir Soekmekaar, Senwa Barwana vir Bochum en Mogwadi vir Dendron. Tzaneen het besluit om sy naam te hou.

Die beoogde naamsveranderings is uit verskeie oorde veroordeel. Die koste-aspek het veral skerp kritiek ontlok. Tydens die opening van die provinsie se wetgewer het Premier Ngoako Ramatlhodi aangekondig dat die provinsie R42 miljoen begroot het vir die naamsverandering van die provinsie na "Limpopo".

Die Pro-Afrikaanse Aksiegroep (Praag) het by monde van sy voorsitter, dr. Dan Roodt, die veranderinge gekritiseer. Dr. Roodt het in 'n onderhoud gesê dat die naamsveranderinge geen historiese of logiese motivering het nie; dit gaan daaroor "om te wys wie is baas".

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines