ADVERTISEMENT:

 

Opgeskorte vonnisse vir rugbyspelers

 

News  Date: 05 April 2002

 

LOUIS TRICHARDT – Verskeie van Louis Trichardt se eerstespan rugbyspelers is verlede week oor die vingers getik na hul verskyning voor 'n tugkomitee van die Blou Bulle Rugby-unie in Pietersburg.

Drie van die klub se spelers, asook die klubvoorsitter en die afrigter van die tweede rugby-span, is gelas om Woensdag, 27 Maart voor die tugkomitee te verskyn, na die omstrede eerstespan rugbywedstryd tussen Louis Trichardt en Pietersburg Dorp op Saterdag, 23 Maart. Die drie spelers, Werner Breytenbach, Jorrie Jordaan en Holtman Fourie, het elk 'n rooikaart tydens die wedstryd ontvang, terwyl die afrigter van die tweede span, Tjorra Nagel, na die wedstryd in die kleedkamer handgemeen geraak het met 'n speler van Pietersburg.

Die speler van Pietersburg het na bewering 'n onsmaaklike opmerking gemaak ten opsigte van Louis Trichardt se nederlaag die dag en die begrafnis van een van die klub se lede vroeër die dag. Mnr. Corrie Dercksen is op sy beurt in sy hoedanigheid as voorsitter van die klub aangekla van wangedrag aangesien hy volgens die unie nie die spelers en klublede in toom kon hou nie. Een van Pietersburg Dorp se spelers, Adriaan Venter, het ook tydens die wedstryd 'n rooikaart ontvang en moes ook voor die komitee verskyn.

Breytenbach en Venter is vir hul aandeel in 'n vuisgeveg vroeg in die eerste helfte van die wedstryd vir vier weke geskors, waarvan twee weke opgeskort is. Jordaan het op sy beurt skuld erken ten opsigte van 'n ontoelaatbare duikslag en het 'n ernstige waarskuwing ontvang. Nagel het 'n 18 maande opgeskorte vonnis ontvang het op voorwaarde dat hy homself nie weer in dié tydperk skuldig maak aan 'n soortgelyke oortreding nie.

Fourie, wat 'n rooikaart ontvang het vir 'n beweerde ontoelaatbare duikslag op die Pietersburg-vleuel, De Wet Venter, asook mnr. Dercksen se sake is uitgestel tot 10 April.

Mnr. Dercksen het Woensdag volgehou dat die unie nie regverdig optree teen die klub nie en dat hulle regsverteenwoordigers die saak verder sal voer. Hy sê dat 'n wedstrydvideo duidelik wys dat die skeidsregter nie konsekwent opgetree het nie en onregverdig opgetree het ten opsigte van die toekenning van soveel rooikaarte teen Louis Trichardt. Hy het ook die klag van wangedrag teen hom as absurd bestempel.

Teen druktyd is verneem dat De Wet, wat ernstige hoofbeserings in die wedstryd opgedoen het, Woensdag vir die eerste keer tekens van herstel getoon het, alhoewel hy nog nie sy bewussyn herwin het nie.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines