

ADVERTISEMENT:

News Date: 02 July 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Die onsedelike aanranding van ‘n tweejarige dogtertjie in Levubu het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur, veral toe die aangeklaagde ‘n ligte vonnis opgelê is.
"Berusting sal ‘n mens seker nooit vind in ‘n vonnis nie, maar 18 maande tronkstraf of R1500 boete is skandalig! Dit is ‘n vieslike daad wat baie swaarder straf verdien, al is jy ‘n eerste oortreder. Sigbare beserings genees, emosionele letsels is gewoonlik blywend," skryf die ontstelde ouers en vriende van Levubu.
Die ontstelde ouers en vriende verwys na ‘n hofsaak op 9 Junie waartydens ‘n inwoner van Louis Trichardt, Pieter Rheeder, in sy dertigs, skuldig bevind is aan onsedelike aanranding van ‘n dogtertjie van twee jaar en vier maande.
Die saak sou voorgekom het op Waterval, waar die nuwe hof op seksuele misdrywe gesetel is. Aangesien die aangeklaagde en al die getuies Afrikaanssprekend was, is die saak egter op Louis Trichardt verhoor. Die beskuldigde het onskuldig gepleit.
"Een positiewe ding is dat die saak redelik gou, ses weke na die voorval, verhoor is," sê ‘n woordvoerder van die landdroskantoor. Die saak is deur Landdros Fourie van die Hof vir Seksuele Misdrywe aangehoor.
Elke saak word op eie meriete beoordeel en die persoonlike omstandighede van die oortreder, die erns van die misdryf en die belang van die gemeenskap word in ag geneem. Wanneer daar ernstige liggaamlike beserings aan ‘n kind (onder 16 jaar) gevind word, word die minimumvonnis van 10 jaar opgelê. Indien die beserings aan die jong slagoffertjie blykbaar ‘n klein bietjie meer ernstig van aard was, kon die minimumvonnis moontlik in werking gekom het.
Die erns van emosionele letsels, veral op ‘n jong slagoffer, word deur me. Marie Helm, geregistreerde berader, uitgewys.
"In die eerste sewe jaar van ‘n kind se lewe is emosionele trauma baie dieper en word dit vasgelê in die kind se onderbewussyn," sê me. Helm. Helm verduidelik dat ‘n kind voor sewe jaar nog nie die emosionele of intellektuele kapasiteit het om so ‘n trauma te verwerk nie. Die kind het nog nie die vermoë om te sê dat sy hartseer of kwaad is oor wat gebeur het nie. Die kind weet dat sy deel was van iets verskrikliks, maar het nog nie die intellektuele ontwikkeling om dit te verstaan nie. Die trauma kan ‘n effek hê vir ‘n leeftyd.
"So ‘n kind moet onmiddellik terapie kry, soos byvoorbeeld speltarapie of sandspelterapie. Terapie moet op die kind se vlak wees om die liggaamsherinneringe (body memories) vry te stel. Familieterapie is noodsaaklik: die ouers moet ook terapie ontvang," beveel me. Helm aan.
Senior maatskaplike werker van die CMR, mev. Hester Beukes, was juis besig met spelterapie toe sy vir kommentaar genader is.
"Deur speleterapie kan die kind se vrese en gebreekte gevoelens tot uiting kom," het mev. Beukes gesê. Beukes sê dat trauma ingrypend is, maar dat daar hoop is.
"Ek was so ontsteld na die uitspraak, dat ek op webwerwe soos www.angelfire.com gaan nalees het. Volgens hulle is daar net een persent van oortreders wat nie die daad herhaal nie. Sal nog ‘n klein kindjie dus moet ly voor gepaste vonnis opgelê word?" vra ‘n vriend van die gesin van die slagoffer. Lede van die gemeenskap meen ook dat die oortreder dit nie weer moet waag om sy voete in Levubu te sit nie.
Me. Helm waarsku egter dat die woede van ‘n gemeenskap die trauma vir ‘n jong slagoffer verhoog. Sy sê dat die jong kind ook die woede aanvoel en dit nie kan verwerk nie.

ADVERTISEMENT:
