ADVERTISEMENT:

 

Ongelukkigheid oor "raserige" nagklubs

 

News  Date: 05 April 2002

 

LOUIS TRICHARDT – Groot ongelukkigheid heers tans onder inwoners rondom die bedrywighede by 'n nagklub aan die onderkant van Krugerstraat.

Die aard van inwoners se klagtes hou verband met die verkoop van drank op die perseel, openbare bakleiery en geweldige harde musiek wat telkens deur die nag gespeel word sonder enige ontsag vir inwoners omliggend tot die nagklub. Klagtes word ook geopper ten opsigte van die gesondheidsgevaar wat die perseel inhou, veral weens die feit dat talle van die nagklub se besoekers doodeenvoudig huise en besighede se mure en tuine gebruik om op te urineer.

Een vrou sê sy het al by verskeie geleenthede die polisie versoek om op te tree. So onlangs soos 20 Maart vanjaar, sê sy, het polisiebeamptes op haar klag gereaggeer om 'n middernagtelike bakleiery voor die nagklub op te breek. Sy is egter meegedeel dat die polisie nie regtig kan optree nie.

By navraag het insp. Daniël Ndlovu van die plaaslike SAPD gesê dat hulle nie sommer net iemand kan gaan arresteer wat dronk op straat is nie, tensy die persoon in die openbaar drink wat 'n kriminele oortreding is. Hy het ook bygevoeg dat optrede ten opsigte van rusverstoring die verantwoordelikheid van die munisipale raad is.

Laasgenoemde is beaam deur mnr. Koos Brits van die plaaslike Verkeersafdeling. Mnr. Brits het gesê dat klagtes ten opsigte rusverstoring vervat is in 'n munisipale verordening. Persone wat hul hieraan skuldig maak, kan 'n boete opgelê word, maar sou die persoon na twee boetes steeds versuim om gehoor te gee, kan hy voor die hof gedaag word.

In gevalle van rusverstoring, wat enige tyd van die dag kan plaasvind, het mnr. Brits inwoners versoek om die raad te skakel. Hy sal dan op sy beurt reël dat beamptes van die plaaslike Verkeersafdeling die saak verder ondersoek.

Buiten vir rusverstoring, beweer inwoners ook dat die nagklub die Drankwet oortree deur na-ure drank te verkoop. Na wat verneem word is die betrokke nagklub as 'n taverne geregistreer wat die eienaars in staat stel om tot 04:00 in die oggend drank te verkoop. Onder normale omstandighede mag 'n besigheid wat drank verkoop vir gebruik op die perseel vanaf 10:00 tot 02:00 handel dryf, terwyl besighede wat drank verkoop wat vanaf die perseel verwyder word, weeksdae vanaf 08:00 tot 20:00 mag handel dryf. Saterdae mag dié besighede handel dryf tussen 08:00 en 17:00.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines