ADVERTISEMENT:

 

“As die munisipale rekening kom, dan skrik ek,” sê die 82-jarige tannie Maria Venter

Rekenings en afsnyding bly maar sleg vir die hart

 

News  Date: 06 December 2013

 

“As die munisipale rekening kom, dan skrik ek,” sê die 82-jarige tannie Maria Venter van Makhado (Louis Trichardt). Verlede week was daar nog ‘n skok by. Toe sy die lampie wou aansit om beter te kan sien waar sy ‘n broek se soom insit, was die krag afgeskakel.

Tannie Maria se krisis met die munisipaliteit kom al ‘n lang pad. Nousedae ly sy regtig daaronder. “Die dokter het juis gesê my hart is nie lekker nie. Wat kan ek aan al hierdie kragprobleme doen? Ek dink die dag as ‘n mens oud word, moet jy maar liewer doodgaan,”  sê hierdie moeg-gespartelde bejaarde.

In 2010 is ‘n boom op haar grensdraad afgekap en die takke het die kragdrade gebreek. Die munisipaliteit het haar rekening met R20 000 gedebiteer. Intussen het die munisipaliteit haar gedagvaar en die saak van die boom gaan nou in die hof draai. “Kyk ‘n bietjie hoe lyk daardie drade. Hulle het dit net geknoop en nie nuwe drade ingesit waarvoor hulle my wil laat betaal nie,” is tannie Maria se mening.

Hoe dit ookal sy, sedertdien is dit ‘n gespartel met die munisipale rekening. Elke maand verskyn die R20 000 met nog rente by, sowel as die sogenaamde “adjustments”, wat nou al R204 per  maand beloop. Hoewel daar reeds “hofbevel” op haar rekening staan, is sy steeds verantwoordelik vir die betaal van die verbruik en ander items.  Sy betaal elke maand volgens berekenings wat haar kleindogter doen op grond van regsadvies.  Hierdie keer het die groen-en-geel waarskuwingsbrief en die gewraakte rooi brief gekom.  Dinsdag was dit kragafsnydag. Haar kleindogter, me. Elsie Brandt, het geen steen onaangeroerd gelaat nie. Sy het ‘n bedrag gaan betaal, met die munisiplaiteit gepraat, die SBBV genader … Wat gebeur het is dat die berekende bedrag sodanig verskil het dat daar na drie maande ‘n tekort van R1 470 was. Ouma Venter se krag is so teen elfuur dieselfde dag aangeskakel. Daarna het me. Brandt die R1 470 ook gaan inbetaal en haar ouma by die SBBV laat aansluit, sodat hulle haar in die toekoms kan bystaan.

Ouma Venter was egter nie die enigste een wat deurgeloop het nie. Mnr. Phillip Olivier, bestuurder van die SBBV, het teen die middag al ‘n paar benoude oproepe gekry en het nog oproepe verwag wanneer mense van die werk af kom en agterkom hulle krag is afgesit.

Deesdae is die kragrekenings so gekompliseerd dat baie mense nie kan agterkom wat daarop aangaan en hoe dit uitgewerk word nie.  Dit word verder gekompliseer deurdat lesings nie met gereelde tussenposes geneem word nie en die eenhede maklik in die hoogste tariefblok ingestoot word.

Die munisipaliteit is gevra om die hele aangeleentheid rondom me. Maria Venter se rekening te verduidelik. Intussen het hul prokureur, mnr. Johan Hammann Snr, gesê  dat Venter se oorlede seun ‘n versoek aan die munisipaliteit gerig het dat hy die boom kon laat afsaag en dat die munisipaliteit dit toegestaan het. “Die een party sê dat die boom in die middel op die grensdraad was en die ander party dat die boom aan haar kant was,” sê Hammann. Sou die hof in tannie Venter se guns beslis, sal alle rentes teruggeskryf word. “My advies sou wees om elke maand die volle rekening te betaal, maar as dit nie bekostig kan word nie, alles behalwe die rente en die heraanluitingsfooi (adjustment). Op laasgenoemde twee sake moet daar dan elke maand ‘n dispuutbrief ingehandig word,” sê Hammann.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines