

ADVERTISEMENT:

News Date: 09 December 2013
Terwyl rioolstortings in Makhado (Louis Trichardt) van tyd tot tyd die dorp en omgewing wil oorweldig, lyk dit tog of die nuwe rioolaanleg oor sowat vier maande operasioneel kan wees. Dit is nou te sê as die Vhembe Distriksmunisipaliteit (VDM) ophou met die laatbetaling van kontrakteurs.
“Ons wou die nuwe aanleg in Oktober in bedryf gestel het. Met die laatbetalings vind die afhandeling later plaas; dit skuif nou na enige tyd tussen Januarie en Maart volgende jaar,” het die terreiningenieur op 14 November tydens ‘n besoek van die Zoutpansberger gesê. Die nuwe rioolaanleg is op die Sinthumule-pad, wes van die dorp, en sowat 2.4km vanaf die ou rioolaanleg geleë.
Die raadgewende ingenieurs, Worley Parsons, se terreiningenieur, mnr. Connie Vlok, het gesê dat die siviele werk afgehandel is, behalwe vir die “raakvlakwerk en skoonmaakwerk”. Daar is dus werk wat Rubicon Civils eers kan afhandel as die meganiese en elektriese werk klaar is. Hulle het nog ‘n klein span op die terrein.
Wat die meganiese werk deur SAME van Johannesburg betref, is daar al toerusting geïnstalleer, soos die besinktenks se meganiese toerusting en die slykdroogbeddings se filtreringsmedia. Die kragaansluiting moet nog plaasvind, maar intussen is daar aan die meganiese toerusting aandag gegee.
Talle inwoners mag dalk vra waar gaan die elektrisiteit vandaan kom?
Vlok het gesê dat die elektriese toevoerlyn al geïnstalleer is. “Die toevoerlyn is ‘n landelike Eskom-lyn duskant Tshikota. Ons het ‘n goedgekeurde verbruikersertifikaat van die stadsraad. Die elektriese skakelings sal hopelik eersdaags voltooi wees, sodat voortgegaan kan word met die installering van die elektriese kabels op die terrein,” het Vlok gesê.
Die voltooiing van hierdie indrukwekkende nuwe watersuiweringswerke sal ‘n gedenkwaardige oomblik wees, maar wie gaan die aanleg bestuur en onderhou? Dit is ‘n vraag wat die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging al verlede jaar geopper het.
“Die meganiese ingenieur gaan operateurs vir ses maande oplei. Die operateurs is nog deur die munisipaliteit geïdentifiseer nie, maar hulle moet teen Januarie aangewys wees. Daar is ‘n jaar onderhouds- of retensieperiode waartydens die meganiese en elektriese kontrakteurs die werke onderhou. Daarna is die munisipaliteit verantwoordelik vir die bedryfstelsel,” het Vlok gesê.
Die toer het ‘n besoek aan die kontrolegebou ingesluit. Daar was nuwe motors en ratkaste te sien wat pas vanuit Nederland aangekom het. ‘n Span van die elektriese kontrakteur, Generic Core, was daar. Elektrisiën Barry Mohlala het gesê dat hulle vir meer elektriese kabels wag en dat daar nog sekere slote gegrawe moet word. Die ratkaste is geoormerk vir die belugtingstoerusting wat in die biologiese reaktor gebruik word.
Die elektriese projek se totale waarde is R22 miljoen. Die duur items is die elektriese panele en kabels, wat in Suid-Afrika vervaardig word. Die totale waarde van die hele kontrak (siviel, meganies en elektries) is R68 miljoen.
Die nuwe watersuiweringswerke sal vyf megaliter rou riool per dag kan hanteer. Die westelike gedeelte van Makhado (Louis Trichardt) en Tshikota se riool graviteer na die nuwe aanleg en die riool van die maksimum-sekuriteit gevangenis, Eltivillas en die industriële gebied sal ook daarby aansluit. Die nuwe aanleg se kapasiteit sou verdubbel kon word na 10 megaliter indien daar by die inlaatwerke twee primêre besinktenks gebou word om die lading op die biologiese reaktor te verminder en die twee sekondêre besinktenks vermeerder word na vier. Hierdie projek met die nuwe besinktenks, addisionele chloorkontak-kanale en opgradering van toerusting, sal ongeveer R15 miljoen kos.
Die ou watersuiweringswerke word onder ‘n aparte projek opgegradeer en dit behoort dié aanleg se kapasiteit op te stoot van 7.5 na 11 of 12 megaliters (soveel riool soos wat die dorp al ongeveer drie jaar gelede geproduseer het).
‘n Ligpunt aan die einde van die tonnel is die feit dat die VDM munisipale bestuurder, mnr. Masala Makumule, intussen laat weet het dat die betalings vir die kontrakteurs gedoen is.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
