ADVERTISEMENT:

 

Onmin in rugbykringe oor "bloedige" wedstryd

 

News  Date: 29 March 2002

 

LOUIS TRICHARDT – Groot ongelukkigheid heers tans in plaaslike rugbygeledere na Saterdag (23ste) se omstrede eerstespan rugbywedstryd tussen Louis Trichardt en Pietersburg Dorp. Die wedstryd, waarin Louis Trichardt drie rooikaarte en een geelkaart en Pietersburg een rooikaart ontvang het, het plaasgevind te midde van 'n algemene gevoel dat dit uitgestel moes word.

Die rede waarom baie gevoel het die wedstryd moes uitgestel word, was die begrafnis van een van die klub se jong spelers, Leon Moodie (22. Leon is op Dinsdag (19de) in 'n motorongeluk dood en is Saterdagoggend begrawe.

Gemoedere het reeds vroeg in die eerste helfte opgevlam na 'n vuisgeveg tussen die twee spanne se slotte, Werner Breytenbach van Louis Trichardt en Adriaan Venter van Pietersburg. Venter en 'n bebloede Breytenbach is summier met rooikaarte vanaf die veld gestuur.

Minute later is Louis Trichardt se ander slot, Jorrie Jordaan, met 'n rooikaart gestraf vir 'n ontoelaatbare duikslag, waarna Hendrik Kemp, binnesenter vir Louis Trichardt, 'n geelkaart ontvang, ook vir 'n ontoelaatbare duikslag.

Spel het daarna voortgegaan, maar in die tweede helfte is Louis Trichardt se losskakel, Holtman Fourie, ook met 'n rooikaart gestraf vir 'n ontoelaatbare duikslag op die Pietersburg-vleuel, De Wet Venter. 'n Bewustelose De Wet is inderhaas na die Pietersburg Hospitaal afgevoer en teen druktyd het hy nog nie sy bewussyn herwin nie. Sy toestand word ook as kritiek bestempel.

Dinge het na die wedstryd verder handuit geruk, nadat een van Pietersburg se spelers na bewering 'n onsmaaklike opmerking gemaak het ten opsigte van Leon se begrafnis en Louis Trichardt se nederlaag, waarna hy en die afrigter van die dorp se tweede span, Tjorra Nagel, in die kleedkamer handgemeen geraak het.

Fourie, Jordaan, Breytenbach en Nagel, asook die voorsitter van die Louis Trichardt Rugbyklub, mnr. Corrie Dercksen, het Woensdagaand (27ste) voor 'n dissiplinêre komitee van die Blou Bulle Rugby-unie in Pietersburg verskyn rakende Saterdag se wedstryd. Adriaan Venter van Pietersburg sou ook voor die komitee verskyn.

Mnr. Dercksen het Woensdagoggend gesê dat Saterdag se gebeure jammer is, maar dat hulle voel dat die skiedsregter nie regverdig opgetree het ten opsigte van optrede en die uitreiking van rooikaarte teen Louis Trichardt se spelers nie. Hulle gaan ook aan die hand van 'n wedstrydvideo hul saak aan die komitee stel. Daarbenewens sê mnr. Dercksen dat hulle reeds teen die uitslag van die wedstryd geappelleer het met 'n versoek dat dit op neutrale velde oorgespeel moet word.

Mnr. Dercksen het bevestig dat die afrigter van die dorp se eerste span, Louwtjie Botes, vroeër verlede week met die afrigter van Pietersburg, Gideon van Zyl, probeer reël het dat die wedstryd op 'n meer geleë tyd gespeel moet word. Die twee partye kon egter nie tot 'n vergelyk kom nie.

In antwoord op Saterdag se gebeure, het die klubestuurder van die Pietersburg Rugbyklub, mnr. Johnny Eybers, gesê dat dit vir hom moeilik is om oor die wedstryd te praat, aangesien hy self 'n oud-lid van die Louis Trichardt Rugbyklub is. Hy sê dat hy nie bewus was van enige kwade gevoelens tussen die spelers voor die wedstryd nie en dat hy nie weet wat hul gemoedere laat opvlam het nie. Hy het in dieselfde asem ook van die toeskouers geblameer vir die spelers se optrede en gesê dat hulle die spelers aangehits het om handgemeen te raak. Mnr. Eybers het ook bevestig dat hulle nie op bestuursvlak bewus was van die omstandighede wat die wedstryd voorafgegaan het nie. Hy sê dat sou Louis Trichardt op bestuursvlak hulle versoek het om die wedstryd uit te stel, hulle heel moontlik iets sou kon uitwerk.

Teen druktyd was die uitslag van die dissiplinêre verhoor nog nie bekend nie.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines