

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 December 2013
‘n Ongewone, stormsterk rukwind wat deur Levubu reguit na Tshipise getrek het en later weer sy opwagting gemaak het, het ’n spoor van verwoesting agtergelaat.
“Ek het nog nie so iets in 47 jaar beleef nie,” het mnr. Fritz Ahrens van die plaas Sterkstroom in Levubu gesê. Dié sterk warrelwind het verlede Woensdagmiddag (4de) in ‘n nou baan deur Levubu getrek, net om bykans 12 ure later in die vroeë oggendure van Donderdag weer in die suidooste van Levubu amok te maak.
Die middag se rukwind het kol-kol met ‘n hewige reënbui gepaard gegaan. Ahrens het binne 30 minute 58 mm reën gehad. “Die reën is baie welkom, maar nie hoe hy gearriveer het nie!” het Ahrens gesê en bygevoeg dat slegs 21mm by sy buurman van die plaas Rabeja geval het. Op Rabeja is 120 volwasse makadamianeutbome ontwortel. Die skade is moeilik om te bepaal, want daar moet in gedagte gehou word dat ‘n makadamiaboom bykans 10 jaar vat om te vestig en te dra. “Ek het self ‘n paar vrugtebome verloor en ‘n boom het op een stoor se dak geval. Die skade aan die stoor is sowat R35 000. Op ‘n ander plaas is die huis se dak afgeruk,” het Ahrens gesê. Die matte en meubels was sopnat. Die eienaars is met vakansie en nie bereikbaar nie. “Ons vriende het ingespring en die dak herstel. Dit is reeds gedoen,” het mnr. Barry Fourie gesê.
Die elektrisiteitstoevoer is ook vir ‘n paar uur onderbreek.
“Die storm het in ‘n strepie deur Levubu beweeg en ook in Tshipise skade aangerig. Die paaie in Levubu is steeds glibberig,” het mnr. Stephen Hoffman, voorsitter van die Soutpansberg Distrik Landbou-unie, hierdie week gesê.
Mnr. Christo Vorster van Tshipise het vertel hoe die storm reguit van Makhado (Louis Trichardt) se rigting gekom het en die teerpad gekruis het by die Alicedale-pakhuis. “Tussen 17:00 en 18:00 het die warrelwind gehardloop en die westelike deel van die pakhuis se deur oopgeruk. Daarna is hy deur die dak uit,” sê mnr. Vorster. Mnr. Peter Nicholson, direkteur van die Alicedale Estate en pakhuis, sê dat net die dak ingeval het. “Ek het ‘n bietjie skade gekry, maar dit is fantasties dat niemand seergekry het nie,” sê Nicholson.
Op die plaas Versameling van Water in die suidooste van Levubu het mnr. Fanie Havinga die middag neute gespuit en gesien hoe die storm vanaf Elim deur Levubu trek. Dit was om15:50. Min het hy geweet dat hy om 03:15 die Donderdagoggend ‘n ramp op eie werf sou aanskou. ‘n Stormwind met swaar weer en gepaardgaande hael het binne 10 minute die plek onherkenbaar verander. Groot bome het omgewaai en is tot op die grond ontwortel. Die hael het die patats se blare afgeslaan. ‘n Boom het oor die dak gerol, duike ingeslaan en die dakgleuwe oopgemaak. Intussen het die boom die 5000-liter watertenk gebreek en die water het deur die dakgleuwe in die kombuis ingestroom. Havinga kon nie sy toegangshek gebruik nie en moes tydelik ‘n nuwe uitgang maak. Die elektriese sekuriteitsheining het ook skade gekry.
Die Havingas was tot Sondagmiddag 17:00 sonder elektrisiteitstoevoer nadat ‘n transformator sowat 2 km van hulle af van die paal afgeruk is.
“Ek het wakkergeskrik en nie geweet wat aangaan nie. Dit het soos ‘n tornado gevoel. Ek kan nog nie die skade bepaal nie, aangesien ons nog vir sekere kwotasies wag. By my buurman is die piesangbome platgeslaan en lê die piesangs op die grond. Dit was ‘n eienaardige fratswind vir ‘n kort tydjie,” het Havinga gesê.
Ahrens stem saam dat die weersomstandighede vreemd is. “Eers het ons die uitermatige hitte van 38°C gehad en toe hierdie rukwinde en warrelwinde. Die weersomstandighede is al die laaste 10 jaar omgekrap; nee, eintlik van 2000 se vloede af,” het Ahrens gesê.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
