

ADVERTISEMENT:

News Date: 13 December 2013
Die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) ontvang baie klagtes van lede en nie-lede oor elektrisiteits- en waterrekeninge wat ‘n “groot gemors” is.
“Daar is klagtes van buitensporige bedrae op verbruik, geen lesings van meters, verkeerde meterlesings of daar word net eenvoudig geen lesings aangedui nie,” is die mening van die SBBV-voorsitter, mev. Inga Gilfillan, en die bestuurder, mnr. Phillip Olivier.
Die meeste inwoners weet waarskynlik al dat die elektrisiteitsverbruik in bloktariewe teen ‘n glyskaal bereken word. Indien die rekeninge nie maandeliks gelees word nie, plaas dit die verbruiker in ‘n hoër kategorie of blok wanneer die lesings uiteindelik geneem word.
Mnr. Jaap Kelder, voorsitter van die Nasionale Belastingbetalersunie, meen dat dit doelbewus gedoen word. “Uitgeslaap soos die munisipaliteite is, sal hulle doelbewus maandelikse lesings oorslaan, sodat, wanneer daar wel ‘n lesing geneem word, die totale verbruik vir die maande waar daar nie lesings geneem is nie, teen die hoër tariewe bereken kan word,” sê Kelder.
Maar hoe nou gemaak as ‘n verbruiker so ‘n rekening ontvang waarin al die verbruik van vier of meer maande skielik op een rekening verskyn?
Mnr. Gert van Zyl (74) het so ‘n rekening ontvang wat skielik meer as R3800 beloop het, en dit ten spyte daarvan dat hy normaalweg gesorg het dat hy sowat R2000 in krediet bly. Oom Gert het ‘n geregistreerde brief aan die bestuurder van die Makhado Munisipaliteit, mnr. Sakkie Mutshinyali, gerig, met afskrifte aan die Limpopo premier en die Staatspresident. Hy het gevra vir inligting oor hoe die berekenings gedoen is en van watter lesing tot watter lesing die verbruik geneem is. “Ek wou ook weet waarom hulle soveel maande wag om die meterlesings te neem. Verder het ek die munisipale bestuurder versoek om ‘n geleentheid te reël waar die publiek met hulle rekeningfoute kan kom en verduidelikings en oplossings kan kry,” sê oom Gert.
Kelder se raad kom hiermee ooreen. “Ons stel voor dat, waar daar meer as een maand se verbruik op ‘n rekening is, u die munisipaliteit versoek om die korrekte berekening te doen. U betaal dus net ‘n geskatte bedrag wat redelik is en verklaar ‘n dispuut oor die balans,” sê Kelder.
Die munisipaliteit het by monde van sy woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, geweier om enige inligting rondom oom Gert se rekening te verskaf. “Dit is konfidensieel,” het sy antwoord gelui. Op ‘n soortgelyke navraag oor ‘n ander rekening was sy antwoord: “Ons gee nie individuele inligting aan die publiek nie.”
In nog ‘n geval is die meterlesing op ‘n November-rekening totaal verkeerd geneem, sodat die rekening op meer as R37 000 uitgekom het. Die verbruik op net een van die drie fases was aangegee as 23 037. Na vele oproepe aan Stanley, Peggy, Timmy en Nelson van die munisipaliteit en baie ontsteltenis, is daar met ene Patrick van die meterlesers gepraat, wat ‘n vrou uitgestuur het wat geweier het om te wag totdat die eienaar tot by die hek kom. Uiteindelik is die rekening “reggestel”, maar steeds weet die verbruiker nie hoe die bedrae bereken is nie.
Bobodi het nie gereageer op die feit dat dit onregverdig is om bloktariewe op ‘n glyskaal te implementeer wanneer lesings nie elke maand geneem word nie. Hy het gesê dat die munisipaliteit gemiddelde lesings gebruik as daar konstant niemand by die eiendom is wanneer die meterlesers van die aangewese maatskappy die lesings kom neem nie.
Wat die meterlesers betref, het Bobodi gesê dat die meterlesers nie vervang gaan word nie. Op die vraag of die munisipaliteit volle verantwoordelikheid neem vir die manier waarop die meterlesings en die rekenings gedoen word, het Bobodi geantwoord, “Ja, ons ondersoek altyd die probleme (challenges) wat onder ons aandag gebring word.”
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
