ADVERTISEMENT:

 

Die bakkie waarin die Tshigodime-gesin van Siloam dood is, nadat hulle tromp-op met 'n aankomende vragmotor gebots het. Die jongste lid van die gesin was maar ses maande oud gewees.

Talle reeds dood op paaie

 

News  Date: 13 December 2013

 

‘n Noodlottige motorongeluk, waarin ‘n hele gesin uitgewis is, het opnuut die kwessie van padveiligheid gedurende die Kersseisoen uitgelig.

Die gesin van die Nzhelele-area, mnr. Phathutshedzo Tshigodime (30), sy vrou Cynthia (31) en hulle twee seuns Benjamin (5) en Daniel (6 maande), is verlede Vrydag dood in ‘n ongeluk op die N1 noord naby die Witvlag-afdraai. Hulle was oppad huis toe na Siloam, vanaf Makhado (Louis Trichardt), toe hulle tromp-op met ‘n aankomende vragmotor gebots het. Daar word vermoed dat die vragmotorbestuurder in die nat weer beheer verloor het oor die vragmotor en dit oor die pad gegly het.

Die Tshigodime-gesin se ongeluk was een van 13 noodlottige ongelukke wat in die provinsie aangemeld is gedurende die week vanaf 1 tot 8 Desember. Dit aldus die Padverkeersbestuur Korporasie van Suid-Afrika wat vanaf die begin van Desember weekliks ‘n padveiligheidsverslag sal uitbring wat die ongeluksyfers vir elke provinsie bekend sal maak.

Hierdie verslag maak onderskeid tussen gewone noodlottige ongelukke en groot noodlottige ongelukke waarin daar meer as vyf mense oorlede is. Gedurende hierdie tydperk is daar regoor die land 218 noodlottige padongelukke aangemeld waarin 261 mense oorlede is. Van hierdie ongelukke is twee deur die padkorporasie as groot noodlottige ongelukke geklassifiseer.

Op 1 Desember het die eerste groot ongeluk plaasgevind. Daar is 14 mense dood op die N12 roete in Noordwes. In die tweede voorval is nege mense oorlede op 6 Desember op die N11 roete in Limpopo.

Die gru-ongeluk van die Tshigodime-gesin is voorafgegaan deur nog ‘n ongeluk, waarin vyf mense ernstig beseer is. Die Makhado polisie het vandeesweek bevestig dat hulle ‘n saak van roekelose of nalatige bestuur ondersoek, nadat ‘n plaaslike man voor ‘n aankomende trein ingery het. Die ongeluk het gebeur by die treinkruising op die Ledig-grondpad buite die dorp.

Volgens plaaslike polisiewoordvoerder  AO Takalani Madzhigili, was die trein oppad na Makhado (Louis Trichardt). Die man, wat nog nie amptelik aangekla is nie, het vier plaaswerkers agter op sy bakkie vervoer ten tye van die ongeluk. Sover daar vasgestel kon word, is niemand ernstig beseer in die voorval nie.

Die afgelope naweek is daar minder ongelukke aangemeld. Volgens die Makhado brandweerstasie was daar Sondag net een voorval waarin ‘n voertuig op die Thohoyandou-pad, naby Ratombo, omgeslaan het. Volgens die stasie is twee mense lig beseer in hierdié voorval.

Volgens die padkorporasie is die bydraende faktore tot motorongelukke, motoriste wat roekeloos ander voertuie verbysteek, spoed en bestuurders wat drink en dan bestuur. Plaaslike motoriste is opnuut gemaan om uiters versigtig te wees, veral omdat meeste mense reeds vooruit beplan aan ‘n somervakansie en padveiligheid uit die oog verloor.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines