

ADVERTISEMENT:

News Date: 20 December 2013
Kersfees het vroeg gekom vir ‘n gesin van Levubu wat na vyf jaar van rondtrek, ‘n eie woonplek as ‘n geskenk ontvang het.
Mev. Martie Ferreira noem haar plekkie “Genade”. “Ek het die Here so lank daarvoor gevra! Die Here sien my en my kind raak,” sê Martie, wat oorborrel van dankbaarheid.
Martie, wat in haar vyftigs is, het haar man vyf jaar gelede aan die dood afgestaan en daarna het ‘n wonderlike gemeenskap hulle oor haar en haar dogter, wat nou 15 is, ontferm.
Ds. Petrus Kriel van die NG Kerk Levubu-gemeente het dit op hom en die gemeente geneem om seker te maak dat daar in Carla, wat uitstekend in sport en akademie vaar, se behoeftes ten opsigte van skool en alles wat daarmee gepaardgaan, voorsien word. Baie ander persone en instansies het gehelp met kos en ander behoeftes.
Steeds was daar egter die onsekerheid ten opsigte van ‘n vaste blyplek. Dan het hulle hier in ‘n motorhuis gebly en dan daar in ‘n kamer, hoewel hulle altyd dankbaar was om ‘n dak oor hul kop te hê.
Hierdie Kersfees is egter ‘n wonderlike een vir die Ferreira-gesin. Hulle het in November ingetrek in ‘n huis wat net vir hulle reggemaak is. Daar is geen onsekerheid meer oor wanneer en waarheen hulle weer sal moet trek nie.
Pastoor John en Marietjie Struwig van die AGS op Levubu het van die gesin te hore gekom en Marietjie het vir André en Ida Nel aan wie die plek behoort, gevra of hulle die vier-vertrek huisie mag opknap. Die eienaars het ingestem en gesê dat hulle die huis verniet gee, solank as wat die AGS die onderhoudswerk sal doen. John, wat ‘n ervare bouer is, het saam met gemeentelede ingespring, Die mure was gekraak, die vloere basies sand en daar was nie plafonne nie. Die plekkie is pragtig opgeknap en lekker leefbaar gemaak en toegerus.
“Daar is soveel vreugde en vrede in hierdie huis. Martie is so opgewonde oor die dakwaaier. Hulle het warm water en kan enige tyd gaan bad. Carla se kamer lyk ook pragtig. Sy was so opgewonde om haar eie kamer, ‘n spierwit en pienk ene met ‘n antieke kamerstel in, te hê. Sy het dadelik vir haar maats daarvan vertel,” sê Marietjie.
Die Struwigs sê dat hierdie waarlik ‘n gemeenskapspoging was en hulle het ondersteuning en finansies van persone, besighede en instansies van die omgewing gekry, asook van sover as Pretoria en Nelspruit.
Die Ferreira-gesin wil graag elkeen in Levubu, Makhado (Louis Trichardt) en oor die land bedank vir die bydraes en ondersteuning, in watter vorm ookal, asook die voortgesette ondersteuning. Hulle wil niemand uitlaat deur mense uit te sonder nie, maar noem tog graag ds. Petrus Kriel en die NG Kerk Levubu-gemeente, past. John en Marietjie Struwig en die hele gemeente van die AGS op Levubu, die manne wat gehelp het met die huis en die vroue wat die plek binne toegerus het, past. Craig en Wilma Whitcomb en die damesgroep van die Levubu Christengemeente, die twee direkteure van Matthews Phosa College van Nelspruit, André en Ida Nel van Levubu, Con en Belinda Janse van Rensburg van Levubu Spar, verskeie besighede in Levubu en Louis Trichardt, Emmie Cloete en Sarie Coetzee vir die tuin en Piet en Antoinette Venter, altyd gereed met blyplek, ‘n bord kos of vervoer. “Ek dank ons hemelse Vader vir die groot genade wat Hy oor ons uitgestort het,” sê Martie.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
