

ADVERTISEMENT:

News Date: 20 December 2013
Einde November het die Makhado Munisipaliteit ‘n belofte gemaak dat die dorp se strate, deurspek van slaggate, herstel sal word.
‘n Plaaslike konstruksiemaatskappy kon egter nie langer wag dat daar gestalte aan hierdie belofte gegee word nie. Maseakhole Constructability & Projects in Makhado (Louis Trichardt) het verlede Vrydag as 't ware die strate ingevaar en uit hul eie sak slaggate begin regmaak. Strate waaraan Maseakhole se oranje span aandag gegee het, was Baobab-, Bauhinia- en Leeustraat.
Dieselfde dag is ‘n werkspan van die Makhado Munisipaliteit in Groblerstraat opgemerk waar ook hulle besig was om slaggate te herstel. Die span het by die Zoutpansberger se joernalis, wat gestop het om ‘n foto te neem, gepleit om die foto in die koerant te plaas. “Ons het nou baie teer gekry daar by die stoor, ons gaan al die slaggate regoor die dorp regmaak,” het een van die werkers gesê.
Ander strate waaraan daaraan intussen gewerk is, het ingesluit Parksingel- en Tambotiestraat waar die hele pad ‘n sloot ingeval het. Hlanganani- en Kortstraat bly egter onveranderd en die padwerke aan die sypaadjies in Munnik- en Stubbstraat hou nog steeds ‘n gevaar in vir beide motoriste en voetgangers. Een leser het tong-in-die-kies opgemerk dat die munisipaliteit die gedeelte van Ruhstraat tussen Krogh- en Krugerstraat maar heeltemal kan skraap en dit permanent ‘n grondpad maak vanweë al die bestaande slaggate. Aan die bopunt van die park in Boababstraat, waar die straat opdraai na Elandstraat, is dit ook net ‘n kwessie van tyd voordat motoriste wat in die draai die slaggate wil misry, in mekaar gaan vasry.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
