

ADVERTISEMENT:

News Date: 20 December 2013
Talle mense is verlede week voor stok gekry toe die Makhado polisie toegeslaan het op ‘n vermeende dobbelhuis wat bedryf is onder die dekmantel van ‘n internetkafee.
Drie mense, insluitende die eienaars van die Internet Entertainment Lounge by Makhado Crossing, is summier gearresteer en moes ‘n nag in die selle spandeer. Die 19-jarige Zonica Naudé en haar kêrel, Jacques Jansen van Vuuren (19), is verlede Donderdag saam met ‘n werknemer, Lorraine Ndivhuwo Sadiki (28), deur ‘n taakspan van die polisie gearresteer.
Aldrie het Vrydag in die Louis Trichardt Distrikshof verskyn, waar hulle aangekla is op klagtes wat verband hou met onwettige dobbelary in terme van die nasionale en provinsiale dobbelwette. Borg is vasgestel op R1 000 elk en hulle sal weer op 17 Januarie volgende jaar in die hof moet verskyn.
Polisie op die toneel het bevestig dat hulle al ‘n geruime tyd dié sogenaamde Internetkafee ondersoek het, nadat lede van die publiek gekla het dat daar glo gedobbel word. “Ons verdra nie onwettige aktiwiteite in ons dorp nie en hulle sal verantwoordelikheid moet aanvaar vir hulle dade,” het die sektorbevelvoerder van die Makhado SAPD, brig. Alex Seopa, gesê. Hy was op die toneel tydens die arrestasies.
Mnr. Philly Masogo, ‘n senior wetstoepasser van die Limpopo Dobbelraad, was ook Donderdag teenwoordig gewees tydens die arrestasie. Hy het bevestig dat Naudé en Jansen van Vuuren hulle besigheid bedryf het sonder die nodige lisensies.
Daar is Donderdag ‘n totaal van nege mense, wat die polisie binne-in die winkel aangetref het, in hegtenis geneem. Hierdie klante is met polisievangwaens na die aanklagkantoor geneem waar hulle skulderkenningsboetes van R150 moes betaal.
Een vrou het baie benoud vanuit die polisie se vangwa verduidelik dat sy net in die winkel was om ‘n internettransaksie te doen. Sy is later toe wel vrygelaat. Nog ‘n kliënt, in teenstelling hiermee, was weer baie beïndruk dat sy foto dalk in die koerant gaan kom. “Neem my foto, ek wil beroemd wees,” het die man bly sê terwyl hy in die vangwa gelaai is.
Binne-in die winkel het daar talle raakskermrekenaars gestaan, verstar op ‘n aanlyn-speletjie. Die polisie het later bevestig dat hulle op hierdie toerusting beslag gelê het, en dat daar ‘n totaal van 15 rekenaars was.
Volgens Masogo word die publiek mislei deur kennisgewings wat buite op die winkel geplak word om te dink dat dit ‘n internetkafee is. Hy het verwys na plakkers met die name van sosiale media soos Facebook en Twitter wat op die Internet Entertainment Lounge se deur geplak is. Hy het verder verduidelik dat kliënte glo geld betaal aan ‘n kassiere, maar slegs om aanlyn-dobbelspeletjies te speel, en nie om die internet te gebruik nie. As ‘n kliënt klaar gespeel het, versoek hy net ‘n uitbetaling van sy speletjie se krediete, wat sy wengeld is, van die kassiere.
Persone wat dobbelhuise besit, het Masogo gesê, moet in besit wees van ‘n lisensie wat uitgereik word deur die Limpopo Dobbelraad. Die lisensie moet op die perseel vertoon word. Daar is verneem dat die polisie nie ‘n geldige lisensie op die perseel kon vind nie.
Die koerant het ook vasgestel dat aanlyn-dobbelary onwettig is in Suid-Afrika. Dit is aldus 'n bevel in September vanjaar deur die Suid-Afrikaanse Appèlhof. Die beslissing het gevolg nadat Piggs Peak Casino, ‘n Swazilandse onderneming, teen ‘n Hooggeregshofbeslissing, wat beveel het dat aanlyn-dobbel onwettig is, geappelleer het.
Suid-Afrikaners mag slegs dobbel by gelisensieërde afsetpunte.
In terme van die dobbelwette in Suid-Afrika is die volgende aktiwiteite, met betrekking tot internetdobbel, onwettig:
• Internet-operateurs wat aanlyn dobbelaktiwiteite aanbied vir Suid-Afrikaners.
• 'n Speler of 'n dobbelaar wat deelneem aan aanlyn-dobbelary transaksies.
• Persone, entiteite of organisasies wat die voorsiening van aanlyn-dobbelary fasiliteer, insluitend ‘n internet diensverskaffer of finansiële diensverskaffers soos banke,
• Persone, entiteite of organisasies wat aanlyn-dobbel adverteer of fasiliteer soos radio, televisie uitsaaiers en die gedrukte media. (Nasionale Dobbelwet, Wet 7 van 2004, Limpopo Dobbel Wet, Wet 4 van 1996).
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
