

ADVERTISEMENT:

News Date: 29 March 2002
LOUIS TRICHARDT – 'n Draagbare demonstrasiemodel om die werking van die landdroshof selfs vir kinders meer verstaanbaar en toeganklik te maak, het heelwat belangstelling ontlok by 'n onlangse opleidingskursus vir landdroste in Kaapstad.
Die opvoedkundige model is ontwerp deur plaaslike Hooflanddros, Sakkie Scheepers, as deel van 'n projek vir die opleidingskursus. Die kursus is aangebied deur die Law, Race and Gender Research Unit van die Universiteit van Kaapstad, tesame met die Justisie Kollege van Pretoria..
Onder die tema Wie is Wie in die Kriminele Hof? beeld die demonstrasiemodel die verskillende rolspelers in die hofsaal uit. 'n Skematiese voorstelling lig die model verder toe.
Landdros Scheepers het na sy terugkeer uit Kaapstad gesê die opleidingskursus, met die tema Sosiale Konteks in Juridiese Besluitneming was besonder leersaam en het die noodsaaklikheid beklemtoon om na die hele gemeenskap uit te reik.
Die model wat hy ontwerp en saam met sy eggenote gebou het, is 'n handige hulpmiddel om die werksaamhede van verskillende rolspelers in die hof te veruidelik en die hele proses meer toeganklik te maak vir selfs klein kinders.
Die model is reeds hier plaaslik gebruik in demonstrasies aan skoolgroepe. Dit sal ook verder aangewend word in 'n uitreik-aksie na verskillende skole.
Tydens die opleidingskursus in Kaapstad het die model en gepaardgaande skematiese verduideliking geesdriftige belangstelling uitgelok. 'n Verteenwoordiger van die Deense regering het onder meer navraag gedoen oor die beskikbaarheid van die model en toeligtende brosjure.

ADVERTISEMENT:
