

ADVERTISEMENT:

News Date: 10 January 2014
Massale rekeninge is plaaslike inwoners se vroeë Nuwejaars verrassingskok vanaf die Makhado Munisipaliteit.
Sommige inwoners se gewone munisipale rekeninge beloop ‘n verhoging van meer as 400% aan die begin van Januarie, wat algemeen aanvaar word as een van die moeilikste maande vir die meeste huishoudings.
Die reusebedrae wat onverwags op inwoners se rekenings verskyn, word saamgestel deur soveel as 12 “diverse” (sundries) inskrywings op een rekening. Die inskrywings word bloot aangedui met 'n ongeïdentifiseerde “DN” kode. By telefoniese navrae kon die munisipale bestuurder van die Makhado Munisipaliteit, mnr. Sakkie Mushinyali, geen lig werp op die betekenis van die inskrywings nie. Hy het aangedui dat hy eers die hele aangeleentheid sal moet ondersoek.
Die onaangekondigde hoë rekenings volg op hewige reaksie wat ontlok is deur vroeëre reusespronge in inwoners se munisipale kragrekenings. Daardie onverwagte verhogings is indertyd veroorsaak deur die oënskynlike manipulasie van die nuwe elektrisiteitsglyskaal om kraggebruik kunsmatig op te stoot na die hoogste tarief, deurdat kraglesings vir verskeie maande nie gelees word nie en dan saamgebondel en die opgehoopte kraglesing weerspieël en aangeslaan word as uitermatig hoë kraggebruik.
Die nuwe onverklaarde vlaag rekeningskokke kom nadat daar in die laaste gedeelte van verlede jaar (2013) opvallend nuwe waardering begin posvat het vir ‘n oënskynlike verbetering in betrekkinge met die owerheidsinstansie. Die betrekkinge was tot in daardie stadium onder gevaarlike spanning deur ernstige ontevredenheid oor die algemene gebrek aan aanvaarbare dienslewering van die kant van die munisipaliteit. Dié verwagte weldadige deurbraak in verhoudinge kan nou noodwendig 'n hernieude negatiewe bedreiging inhou vir die inwoners se betragting van die welwillendheid, betroubaarheid en algemene integriteit van die munisipaliteite.
By navraag het die voorsitter van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging, mev. Inga Gillfillan, vandeesweek bevestig dat daar in die verwagte dringende samesprekings tussen die vereniging en die munisipaliteit na hierdie aangeleentheid, asook ander gereëlde onverklaarde "aanpassings" op rekeninge, gekyk sal word.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
