ADVERTISEMENT:

 

'n Paartjie van die dorp, Johan Cronjé en Yolanda Kock, se huis het die afgelope naweek, in hul afwesigheid, deurgeloop onder diewe. In die voorgrond is die polisie besig om 'n verklaring af te neem van Yolanda se ma, Tersia. In die agtergrond is Yolanda se pa, Tobie, en haar tannie, Christa Kock.

Inbrekers versuur twee se vakansie in Europa

 

News  Date: 10 January 2014

 

Ai, die skok! Jy is weg met vakansie en daar word by jou huis ingebreek. 

Vir Johan Cronjé en Yolanda Kock van Makhado (Louis Trichardt) het hierdie scenario ‘n wrede werklikheid geword toe kriminele by hul plaashuis ingebreek het en die hele huis gevandaliseer het.

Kock se ouers, Tobie en Tersia Kock, het Maandag die nare ontdekking gemaak. Hulle het oor etenstyd gou gaan inloer by die paartjie se honde toe hulle agterkom daar is groot fout. Yolanda se voertuig was in die oprit geparkeer en die agterdeur wat oopgestaan het, het vir Tobie en Tersia koue rillings laat kry. Tobie en Tersia self was vroeër in Desember die slagoffers van ‘n gewapende roof gewees. Tersia vertel dat hulle op 12 Desember voor Fruit & Veg deur ‘n enkele rower beroof is. Die ongemaskerde man het ‘n vuurwapen op hulle gerig en geld en selfone geëis. Tersia en Tobie is gelukkig nie beseer nie en die man het op die vlug geslaan.

By Yolanda en Johan se huis kon niks egter vir Tobie en Tersia voorberei op wat binne-in gewag het nie. Die hele huis, van voor tot agter, was omgedolwe. Kaste en laaie het oopgehang en dié se inhoud het oor die vloer besaai gelê. Die diewe het niks in Kock en Cronjé se huis ontsien nie. Selfs nie Cronjé se kinders, wat ook die huis met hulle deel, se slaapkamers is ontsien nie.

Kock en Cronjé is sedert die einde Desember met vakansie in Europa. Maandag, toe die inbraak ontdek is, was hulle in België gewees, en hulle kon nie dadelik telefonies in die hande gekry word nie. “Ek dink net hoe gaan my kind huil as ek haar vanaand bel en sê wat het hier gebeur,” het Tobie gesê terwyl hy buite die huis gestaan het. 

Op die stoeptrappie by die agterdeur het nog ‘n skroewedraaier gelê, wat die diewe vermoedelik gebruik het om eers die veiligheidshek en daarna die agterdeur oop te breek. Tobie en Tersia het dadelik die polisie ontbied, maar dit was ‘n haas onbegonne taak om te bepaal wat alles gesteel is. “Net Johan en Yolanda sal dit weet, en hulle sal eers later in Januarie terugkom huis toe,” het sy gesê.

Tersia het wel aan die polisie bevestig dat sy agtergekom het dat die televisie, hoëtroustel en die X-box van die kinders vermis word. Die diewe het ook van die kos en drank in die huis weggedra. In die spens het die inhoud van die kos- en vrieskas op die grond gelê, en op die toonbank was daar ‘n halfgedrinkte bottel koeldrank en whiskey. Dit wil ook lyk of die diewe net van Johan se duurste drank gesteel het.

Tobie bereken die skade wat die diewe aangerig het op derduisende rande. Hy het verwys na Johan se motorfiets wat in die huis gestaan het vir veiligheid. Vermoedelik het die diewe die motorfiets probeer aanskakel, maar kon nie die regte sleutel in die hande kry nie, waarop hulle die agterste sitplek afgeruk het.

Sover daar vasgestel kon word, is daar nog geen arrestasies gemaak in die voorval nie.

Nadat die koerant verneem het dat die voorval by Cronjé en Kock se huis nie die enigste soortgelyke inbraak was nie, is die plaaslike polisiewoordvoerder, A/O Takalani Madzhigili, genader vir kommentaar. Hy wou egter nie ander inbrake bevestig nie, omdat dit daarop sal neerkom dat hy misdaadstatistieke bekendmaak.

Intussen het Yolanda se ouers vir haar en Johan in België gekontak met die nuus. Die paartjie het besluit om eers klaar vakansie te hou, en tot hulle terugkeer is veiligheid by hulle huis opgeskerp.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines