

ADVERTISEMENT:

News Date: 10 January 2014
Vanjaar se matriekuitslae het gemengde reaksies uitgelok by Hoërskool Louis Trichardt.
Agtien van die skool se 164 matrieks het gedruip, met die skool wat ‘n 89,2% slaagsyfer oplewer. In vergeleke met 2012 se slaagsyfer van 94,8% was die uitslae vir die waarnemende skoolhoof, mnr. Theo Muller, teleurstellend. “Dit sal altyd ons as skool se mikpunt wees om ‘n 100% slaagsyfer te behaal en daarom is ons baie teleurgesteld dat ons nie dié mikpunt bereik het nie,” het Muller Woensdag gesê.
Aan die blinkkant van dinge het die matrieks wat wel geslaag het nie teleurgestel nie en baie goed presteer.
Die 2013-matriekklas spog met 172 onderskeidings, 213 B-simbole en 233 C-simbole. “Dit is die beste vir die afgelope vier jaar,” het Muller gesê. Die skool is ook op 7 Januarie tydens ‘n funksie van die onderwysdepartement in Polokwane aangewys as die 13de beste skool in die provinsie. ‘n Engelse onderwyser van die skool, mev. Hanéne Minnie, is aangewys as die beste Engelse (eerste addisionele taal) onderwyser in die provinsie en ontvang ‘n skootrekenaar as prys. Haar matriekklas het 30 onderskeidings behaal.
Tydens hierdie funksie in Polokwane is Triegies se toppresteerder, Sipho Mbadaliga, ook beloon vir sy prestasies. Hy het sewe onderskeidings behaal, en wel in rekeningkunde, wetenskap, wiskunde, Tshivenda (huistaal), ekonomie en Engels (addisionele taal). “Baie geluk, Sipho, met jou onderskeidings en 19de plek in die provinsie,” het Muller gesê.
Janeska Pretorius spog met ses A’s en is opgewonde om in Potchefstroom te gaan swot en ‘n rekenmeester te word. Sy het onderskeidings verwerf in Afrikaans eerste taal (80%), Engels eerste addisionele taal (89%), lewensoriëntering (88%), besigheidstudies (86%), rekeningkunde (89%) en rekenaartoepassingstegnologie (83%). Nog ‘n leerling wat ses onderskeidings behaal was Andisani Malitsha, maar sy het Dinsdag nie haar rapport by die skool kom haal nie.
Claudé Lombaard sê sy gaan sielkunde swot aan die Universiteit van Bloemfontein. Sy behaal vyf onderskeidings, in Afrikaanse eerste taal (81%), Engels eerste addisionele taal (86%), lewensoriëntering (86%), besigheidstudies (91%) en biologie (83%).
Verlede jaar se Mej. Triegie en ook ‘n toppresteerder, Carin Barkhuizen, gaan in Stellenbosch studeer. Sy was nog besig met voorbereidings en haar ma, Marietjie, het haar sertifikaat by die skool afgehaal. Carin behaal vyf onderskeidings, in Afrikaanse eerste taal (87%), besigheidstudies (90%), Engels eerste addisionele taal (87%), biologie (86%) en lewensoriëntering (91%).
Leerlinge wat vier A’s verwerf het, was Gideon Scheepers, Jacques Labuschagne, Lufuno Raulinga en Lumbedzani Bulasigobo. Khumbudzo Thovhakale, Gert Smit, Leandra Bester, Talita Kloppers, Emmeldah Manganyi, Andisani Mbedzi, Carla Meintjies, Sherwin Moodley, Anza-Tshilidzi Ramabulana en Akonaho Rambijana het almal drie onderskeidings verwerf.
“Ek wil die ouers van hierdie leerlinge gelukwens met hulle kinders se prestasies. Sonder julle motivering en aanmoediging sou hulle nie so suksesvol gewees het nie,” het Muller gesê. Die druipelinge het hy aangemoedig om harder te werk. “Julle het ons volle ondersteuning.”
Muller meen dat swak skoolbywoning en verkeerde vakkeuses bygedra het tot die druipsyfer. Hy het genoem dat 17 van die 18 leerlinge wiskunde gedruip het. “Nie almal het die vaardighede om wiskunde en wetenskap te slaag nie, en die skool sal in die komende jaar meer aandag gee aan leerlinge wat in Graad 10 vakkeuses moet maak,” het Muller gesê.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
