

ADVERTISEMENT:

News Date: 10 January 2014
“Welgedaan, Louwtjies, so trots op julle,” was mev. Cobie Mostert, hoof van Hoërskool Eric Louw in Musina, se woorde Dinsdagoggend aan haar Graad 12-leerlinge met die nuus van die skool se 100% slaagsyfer gedurende die 2013 eindeksamen.
Vir Mostert was dit ‘n besonderse gebeurtenis, want dit was die laaste matriekgroep wat sy deurgesien het sedert sy as skoolhoof aangestel is in 2006. Wat dit ook verder spesiaal vir haar gemaak het, was die feit dat Eric Louw ook aangewys is as een van die top 10 skole in Limpopo na aanleiding van hul prestasie in verlede jaar se senior-eksamen.
Eric Louw behaal in totaal 16 A-simbole, 83 B-simbole en 123 C-simbole. Uit die 60 kandidate wat die nasionale senior sertifikaateksamen afgelê het, het 30 kandidate geslaag met universiteitsvrystelling. Vyftien van die 18 vakke wat by Eric Louw aangebied is, het ‘n 100% slaagsyfer gehad.
Inneke Pieterse, Louwtjie hoofmeisie en Dux-leerling van 2013, was ook die skool se toppresteerder. Sy spog met vier onderskeidings, in Afrikaans eerste taal (87%), lewensoriëntering (85%), besigheidstudies (92%) en rekenaartoepassingstegnologie (88%). Sy gaan hierdie jaar onderwys studeer aan die Wellington Onderwys Kollege in die Kaap.
Een besondere onderskeiding wat behaal is, is dié van Madalean Nxumalo. Sy is die eerste Louwtjie wat ‘n onderskeiding in Tshivenda as eerste taal behaal sedert die skool die vak aanbied. Lawrencia Morrison behaal twee onderskeidings, in Afrikaans eerste addisionele Taal (83%) en lewensoriëntering (81%). Leerlinge wat elk een onderskeiding behaal het was John-James Agenbag (lewensoriëntering), Anke Eckard (geografie), Thabang Mashaba (geografie), Gracious Mulaudzi (lewensoriëntering), Tshavhu Nemathithi (lewensoriëntering), Anandie Oosthuizen (lewensoriëntering), FC Pietersen (wiskundige geletterdheid), Modeline Sitauze (lewensoriëntering) en Johan Waldeck (Afrikaans eerste addisionele taal).
Twee Graad 12 leerlinge van Eric Louw wat spesiale vermelding nodig het, is Anandie Oosthuizen en Rona-Lee Johannsen. Na beide hierdie twee leerlinge se traumatiese ondervinding met ‘n tragiese busongeluk in 2012, kan mens byna nie glo hoe merkwaardig hulle aangepas het en hul matriekjaar met soveel welslae kon bemeester nie. Anandie behaal een onderskeiding, in lewensoriëntering, drie B-simbole en twee C-simbole. Rona-Lee kry op haar simbolestaat een B-simbool en twee C-simbole, met ‘n gemiddeld van 55%.
“Die Graad 12’s van 2014 het voorwaar groot skoene om vol te staan indien hulle die 2013 matrikulante se prestasie wil ewenaar of selfs wil verbeter,” is die boodskap van die skool.
Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles.

ADVERTISEMENT:
