

ADVERTISEMENT:

News Date: 22 March 2002
LOUIS TRICHARDT – Die skielike dood van twee van die dorp se jong inwoners, Louis van den Heever (21) en Leon Moodie (22), asook die dood van die 44-jarige Deon Joubert in motorongelukke die afgelope week, het skokgolwe deur die plaaslike gemeenskap gestuur.
Louis, wat bekend was vir sy verbintenis met Don's Chain Saw Centre, is laat Saterdagaand dood nadat hy in 'n botsing betrokke was net buite die dorp op die N1 na Pietersburg. Hy het omstreeks 10:30 alleen vanaf 'n ete teruggekeer, toe 'n voertuig skielik vanuit 'n stilstaande posisie 'n U-draai voor hom gemaak het. Die geweld van die botsing het die sedan waarin Louis gery het, die lug ingeskiet. Die motor het daarna op sy dak te lande gekom het. Beide Louis en die bestuurder van die tweede voertuig is op slag dood.
Die ongeluk waarin Leon en Deon oorlede is, het Dinsdagaand (19de) omstreeks 21:15 plaasgevind, sowat 100m voor die Hendrik Verwoerdtonnels op die N1 na Messina. Leon en Deon, wat na Messina op reis was, se voertuig het reg van voor met 'n aankomende minibus taxi gebots. Beide Leon, Deon, die bestuurder van die minibus, asook twee ander insittendes van die minibus, is op slag dood. 'n Vierde insittende van die minibus is later op die toneel dood. 'n Baba van tien maande was onder die oorledenes.
Leon en Louis was altwee oud-leerlinge van Hoërskool Louis Trichardt. Leon was tot en met sy dood werksaam by Supa Quick in Tohoyandou. Hy het ook vir die dorp rugby gespeel. Deon was die eienaar van 'n privaat saagmeule.
Louis word oorleef deur sy ouers, Louis en Florence, en twee broers, Jurgens en Nicholas. Leon word oorleef deur sy pa, Jimmy en dié se vrou, Suzette, en twee broers, Quintin en Duncan. Deon word oorleef deur sy vrou, Belinda, en drie kinders, Rudi, Deon en Melinda. 'n Roudiens is reeds Woensdag vir Louis gehou, terwyl Leon Saterdag (23ste) om 11:00 vanuit die Ou Apostoliese Kerk in Kroghstraat begrawe sal word. Teen druktyd was reëlings ten opsigte van Deon se begrafnis nog nie gefinaliseer nie.
Sedert die begin van die maand is daar reeds vyftien ongelukke op die streek se paaie aangemeld. Nege mense het hul lewens verloor, terwyl tien ernstig en negentien lig beseer is.

ADVERTISEMENT:
