

ADVERTISEMENT:

News Date: 13 January 2014
Maandag se heerlike reënbui het dit vir meeste inwoners hier moeilik gemaak om onder die lakens uit te kruip en werk toe te gaan. Vir talle was dit die eerste werksdag van 2014.
“Die boere is opgewonde oor die reënval,” het mnr. Stephen Hoffman, voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie (SDLU), Dinsdag gesê. “Ek dink ons gaan ‘n goeie produksieseisoen hê.” Hoffman was optimisties dat veral Januarie se reënval die streek se grondwatertafel aangevul het. Hy het bygevoeg dat veral wild- en beesboere sal baat by die reën. “As ons nog opvolgreën kan kry in die volgende drie weke gaan dit ‘n goeie winter wees.”
Volgens Hoffman het Januarie se reënval wyer geval as Desember se reën. “Reënval was redelik beperk tot die Soutpansbergstreek,” het hy gesê. In Januarie, vertel Hoffman, het die reën oor die hele streek uitgesak. Maandagaand is daar berig ontvang van 140mm reën op Levubu. Op party plase is daar bietjie meer gemeet, en op andere plase tot 200mm gemeet. SDLU sekretaresse mev. Hester Bayes het bevestig dat die meeste boere in Levubu meer as 100mm reën ontvang het.
Die Waterpoort-omgewing het tussen 140 en 180mm reën ontvang. Op ander plekke, soos Vivo en Alldays, het daar tussen 60 en 80mm reën geval.
In Makhado (Louis Trichardt) het mnr. Willie Agenbacht, wat al jare lank die dorp se reën opteken, 128mm reënval gemeet vir Desember. Oom Willie, soos hy alombekend is, het Dinsdag bevestig dat hy tot dusver, vir Januarie, al 90mm reënval aangeteken het in sy boekie.
Hy het gesê dat hy nog baie optimisties is vir nóg reën in Januarie. “Die miere is nog lekker bedrywig; ons sal maar moet sien of hulle reg is,” het Oom Willie opgemerk.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
