ADVERTISEMENT:

 

Slaggate is letterlik 'n groeiende probleem in Makhado (Louis Trichardt), selfs die Makhado Munisipaliteit sukkel daarmee. (Alhoewel die foto 'n grafiese interpretasie is van die probleemsituasie op die paaie, is die slaggat self in hierdie foto nie gemanipuleer nie.)

Inwoners nou keelvol vir slaggate in strate

 

News  Date: 17 January 2014

 

Die haglike toestand van paaie en strate in en om Makhado (Louis Trichard) het inwoners keelvol.

“Ek dink nie daar is ‘n straat in die dorp wat nie ‘n slaggat in het nie,” het mnr. Jan Kunneke gesê. Behalwe vir slaggate, wat met die reënseisoen soos paddastoele orals opgeduik het, is die toestand van sypaadjies ook besig om ‘n kopseer te word. Padtekens wat nie herstel word nie hou ‘n verdere bedreiging in vir motoriste.

Inwoners is dit eens - die toestand van plaaslike paaie en strate is lankal verby die kritieke merk en dring daarop aan dat die Makhado Munisipaliteit moet optree.

Sedert die begin van die jaar het dele van paaie ook heeltemal verdwyn. ‘n Groot deel van Kortstraat (ná die spoorwegkruising) is verlede week gesloop en is nou ‘n grondpad. Dit geld ook vir die deel van Jeppestraat naby die Coco-Cola Depot. Die nuwe uitbreiding se strate lyk ook net so sleg. Dáár moet inwoners teen ‘n kruipspoed bestuur, en in Hlangananistraat is daar bloot net nie meer plek om te bestuur sonder om deur ‘n slaggat te ry nie. Selfs voor die munisipale kantore is daar massiewe slaggate.

Die swak toestand van sypaadjies is ook ‘n groeiende bekommernis – juis omdat talle motoriste nou begin het om slaggate te ontduik deur op sypaadjies te ry. Dan gebruik talle plaaslike besighede nou ook deurlopend munisipale sypaadjies as afsetpunt vir hul produkte.

Groblerstraat, langs Fruit & Veg, het nou ‘n plek geword waar onwettige motorwerktuigkundiges hulle dienste aan Jan Alleman aanbied. Build It op die hoek van Kruger- en Jouberstraat gebruik die sypaadjie om sement en bakstene te stoor, terwyl grondverskuiwingsmasjinerie vanaf die sypaadjie op die aangrensende leë erf uitverhuur word.

Die Zoutpansberger het die munisipaliteit se bestuurder, mnr. Sakkie Mutshinyali, genader en gevra om dringend kommentaar te lewer. Hy is spesifiek gevra hoe die munisipaliteit se geldsake tans staan om die slaggat-probleem aan te spreek. Verder is hy ook gevra rondom die munisipaliteit se beleid insake die sypaadjies in die dorp.

Muntshinyali het Dinsdag aangedui dat hy nie dadelik wil kommentaar lewer nie, omdat hy self eers “met die verskillende departemente in die munisipaliteit moet praat om uit te vind wat die huidige toestand van sake is.” Hy het aangedui dat hy later hierdie week kommentaar sal lewer.

Intussen het radelose inwoners al self begin om slaggate op te vul met sement of sand. Verlede jaar het ‘n privaat maatskappy, Maseakhole Constructability & Projects, van die kritieke slaggate in Baobab-, Bauhinia- en Leeustraat op eie onkoste gevul met teer. In Douthwaitstraat het die Viljoen-gesin die slaggate voor hulle huis en die Heidi en Peter Kleuterskool met sement gevul.

Gedurende Desember het die Sinthumule Kutama Taxi Assosiasie dit op hulself geneem om die lewensgevaarlike slaggate in die pad tussen Madombidzha en Makhado (Louis Trichardt) op te vul met sement en sand.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines