ADVERTISEMENT:

 

Die sewejarige Louis sit in die koelhouer waarin Brandon (regs) hom geprop het en so sy lewe tydens 'n motorongeluk gered het. By die twee is Vampie, Louis se woef, wat ook die ongeluk oorleef het.

Veertienjarige se optrede red lewe

 

News  Date: 17 January 2014

 

'n Koelhouer kan ook gebruik word om lewens te red, het 'n jong inwoner van die streek twee weke gelede bewys.

Die flinke optrede van die 14-jarige Brandon van Zyl, toe hy Louis Swart (7) se lewe gered het met 'n koelhouer, kan beslis as 'n heldedaad beskryf word.

Brandon en Louis was op Sondag, 4 Januarie, in ‘n motorongeluk betrokke. Hulle was saam met Donovan, Brandon se broer, en Mattie Swart, Louis se ma, oppad terug huis toe nadat hulle die naweek by die Albasinidam gekamp het. Die ongeluk het sowat 18 km voor Makhado (Louis Trichardt) gebeur.

Donovan het bestuur en het beheer verloor oor Mattie se Audi Q5, en dit het onbeheers oor die pad begin gly. Daar word vermoed dat die stuurstang moontlik ingegee het. Daar is tans ‘n ondersoek om die presiese oorsaak van die ongeluk te probeer vasstel.

“Dit is ‘n wonderwerk en bestiering van Bo,” het Brandon se verligte ma, Nicolette, na die tyd aan die koerant vertel. Sy het verlede week vertel hoe Brandon vinnig gedink het om te keer dat Louis nie seerkry nie.

Brandon het vinnig besef dat daar moeilik gaan kom toe Donovan nie die Audi onder beheer kon kry nie. “Donovan het net gesê daar is iets fout met die stuurwiel en dat hy nie die Audi in die pad kan hou nie,” het Brandon skamerig vertel. Hy het blitsig die koelhouer op die sitplek gegryp en begin leeg maak. Brandon sê hy weet nie wat hom aan hierdie plan laat dink het nie, maar dat hy bly was dit het gewerk.

Terwyl die Audi oor die pad begin gly het, het Brandon vir Louis gevat en in die houer maak sit en ‘n kussing bo-oor hom gedruk. Skaars het hy dit gedoen, of die onvermydelike het gebeur – die Audi was die pad byster en het begin rol nadat dit ‘n sandwal getref het.

Louis en Brandon is in die rolslag uit die Audi geslinger. 

Brandon se bene was nog halfpad onder die Audi vasgepen toe dit tot stilstand kom. “Donovan het die motor opgelig en toe kon ek my bene uittrek,” het Brandon vertel. ‘n Heel benoude Louis was nog steeds binne-in die koelhouer gewees en het na sy ma geroep. Tot almal se verbasing het hulle vir Louis heeltemal ongedeerd uitgehelp – hy het nie een enkele merk of skraap op hom gehad nie.

Dieselfde kan nie gesê word van die ander nie. Mattie en Donovan het verskeie kneuswonde opgedoen, terwyl Brandon se wangbeen ernstig gekneus is.

“Ek wil eerder nie dink wat sou met Louis gebeur het as dit nie vir Brandon se optrede was nie,” het Nicolette gesê. “Dit was ‘n wonderwerk gewees, waarvoor ons die Here elke dag dankie sê.”

Terwyl die Van Zyls nog op die ongelukstoneel was, het hulle agtergekom dat Louis se hondjie, Vampie, wat ook in die voertuig was, weg is. “Ons het orals na die hond gesoek, maar kon hom nie kry nie,” het Nicolette vertel. Boere in die omgewing het ook naderhand help soek, maar Vampie was skoonveld gewees.

Dit sou later blyk dat Vampie so groot geskrik het dat hy laat spaander het.

Mnr. Fritz Ahrens, by wie se plaas die ongeluk gebeur het, het die bedremmelde woefie gekry waar hy twee dae later opgedaag het en vir sy mense gesit en wag het. Vampie het ook nie enige beserings opgedoen nie.

Brandon moes na die ongeluk twee dae lank in 'n hospitaal in Polokwane bly om die gekneusde wangbeen te behandel. Volgens sy dokters sal hy dalk later ‘n operasie moet ondergaan as die wangbeen nie vanself gesond word nie. Mattie het haar regterarm seergemaak, terwyl Donovan se rug, skouer en sleutelbeen seergekry het. “Dit is gelukkig nie te ernstig nie; die dokter sê dit is net weefsel wat gekneus het,” sê Nicolette.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines