ADVERTISEMENT:

 

Vragmotorbestuurders by grenspos oor gevare van VIGS ingelig

 

News  Date: 22 March 2002

 

BEITBRUG - In 'n vraghouer wat ingerig is as kantoor en spreekkamer, digby hierdie noordelike doeanepos, word deesdae ingrypende pionierswerk verrig in die bekamping van VIGS en ander seksueel-oordraagbare siektes.

'n Moderne voorligtingsveldtog om dié siektes te probeer bekamp en ook mediese behandeling word by hierdie buitengewone kliniek behartig.

Die kliniek by Beitbrug is een van net drie sulke spesiale houerklinieke, wat in die besonder op langafstand vragmotorbestuurders toegespits is.

Daar is soortgelyke klinieke by Beaufort-Wes en by Harrismith, wat as 'n spanpoging deur die verteenwoordigende liggaam vir langafstand vragmotorbestuurders, die Departement van Gesondheid en Welsyn, en verskeie private borge tot stand gebring en bedryf word.

Die hoofdoel met die houerklinieke is om langafstand vragmotorbestuurders in te lig oor die verspreiding en moontlike voorkoming van seksueel-oordraagbare siektes.

Suster Da Gama Morrison, wat die houerkliniek by Beitbrug beman, sê dit is 'n besonder moeilike, maar uiters noodsaaklike taak.

"Die meeste van die mans is reeds ouer as dertig en het nog nooit voorheen kondome gebruik nie. Dit is uiters moeilik om hulle van die noodsaaklikheid van sulke voorbehoedmiddels te oortuig."

Sy gaan soggens vroeg uit na die bestuurders van die swaar vragmotors, wat soms in lang toue voor die hekke van die doeanepos opdam. Sy lig hulle in oor die dienste van die kliniek en deel ook inligtingstukke, plakkertjies, kasette en voorbehoedmiddels aan hulle uit.

Die inligtingstukke en plakktertjies is in verskillende inheemse tale beskikbaar.

"Van die mense kom maak 'n draai by die kliniek. Ons help ook met die behandeling van geringer kwale, soos hoofpyn en die vervanging van verbande. Ek het 'n reëling met dokters op Messina om die nodige steun te verleen met ernstiger kwale."

Hoewel sy in diens is van die Nasionale Onderhandelingsraad vir die Padvragvervoer Bedryf, werk sy ook ten nouste saam met die Departement van Gesondheid en ander rolspelers.

Suster Da Gama Morrison het haar opleiding in Tygerberg ontvang en was voorheen op Messina in diens van die Venetia myn. Sy behartig die houerkliniek by Beitbrug sedert sy ontstaan in Oktober verlede jaar.

Die kliniek is in Februarie vanjaar amptelik geopen deur Adjunk President Jacob Zuma.

Die vragmotorbestuurders wat van die dienste by die kliniek gebruik maak, kom van oral uit Afrika. Op die oomblik behartig suster Da Gama Morrison nog die hele kliniek alleen. Dit word egter in die vooruitsig gestel om 'n voltydse voorligtingsbeampte aan te stel, sodat sy haar hoofsaaklik op die mediese sy kan toespits.

"Die probleem by die grenspos is baie groot. Die mense kom van oral oor lang afstande en moet dikwels hier oorstaan. Hier is baie meisies, ook van oorkant die brug, wat baie besig is."

Van die meisies doen ook by die kliniek aan met hul probleme. Hulle word ook van die nodige voorligting, raad en mediese hulp voorsien.

"Dit is maar 'n lang en moeisame opvoedkundige proses. Van die mense hoor, maar luister nie altyd nie. Dit vat soms tyd voordat die boodskap regtig deurkom."

Die kliniek en voorligtingsentrum is goed toegerus en gerieflik lugversorg. Dit is op 'n prominente plek langs die parkeerterrein van die vulstasie en restaurantkompleks digby die toegangshek van die doeanepos by Beitbrug geleë.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines