ADVERTISEMENT:

 

Wat hou die toekoms in vir mooi ou Aalwynpark?

 

News  Date: 23 January 2014

 

Wat is dit dié?  Is dit ‘n park, ‘n oop ruimte of bloot ‘n baie groot, leë erf in Makhado (Louis Trichardt)?

In verskeie koerantadvertensies gedurende die laaste gedeelte van 2013 het die Makhado Munisipaliteit eers kennis gegee van sy voorneme om “Erf 1640” te verkoop en later om “Openbare oopruimte 1640” permanent te sluit.

In ‘n gesprek met die voorsitter van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging en ook die segspersoon oor toerisme en omgewingsbewaring , me. Inga Gilfillan, is gevra wat die geskiedenis, stand en status is van dié perseel. Dit is in die jare veertigs in “Louis Trichardt Uitbreiding 1” beplan tussen Messinaweg, Krugerstraat en Louis Bothastraat in ‘n nuwe woonbuurt en is later as aantreklike parkgebied uitgelê.

Vir etlike dekades was erf 1640 algemeen onder inwoners bekend as Aalwynpark, nadat ‘n indrukwekkende aalwyntuin by hierdie hoof ingang aan die noordekant van die dorp uitgelê is. Messinaweg was toe nog die dorp se hoofstraatverlenging na die grootpad na die noorde, voordat die huidige N1 die nasionale hoofpad na die destydse oostekant van die dorp verskuif  en die noordelike uitgang van Messinaweg gesluit is.

“Dit was aanvanklik kundig beplant met rotstuin beddings en ‘n wye verskeidenheid aalwynsoorte, wat van heinde en verre belangstelling by plantliefhebbers en toeriste van oral ontlok het. Veral in die wintermaande was dit ‘n kleurvolle skouspel wat van alle kante van die aalwynpark waarderende aandag getrek het. Dit het aan die ingang van Rivierstraat, Krugerstraat en Messinaweg ‘n besondere aansien en natuurskoon besorg en ‘n aantreklike, rustige uitvlug vir die res van die inwoners wat die park met sy welige skoonheid kon benut,” het Gilfillan gesê.

Met die verwisseling van munisipale hoofde van openbare parke en tuine, is die aalwyn aanplanting in die park en langs Rivierstraat en Krugerstraat aanvanklik bloot verwaarloos. Met die aanstelling van ‘n nuwe park tuinboukundige vanuit die Hoëveld, is in die vroeë negentigs alle beddings oral in die munisipale parke doelbewus verwyder in die plek van bloot grasperke en bome. Die aalwynbeddings, tesame met die sorgvuldig-geplaaste rotstuine, is ook met groot koste heeltemal uit die aalwynpark verwyder. Weinige verdere versorging het plaasgevind. Die aalwyn park het verval tot bloot ‘n oop, boomryke ruimte met dikwels oorgroeide gras, wat strafloos met modderkortpad deur motoriste uitgery  en met plastiek, blikke en bottels besoedel word. In die hele voormalige aalwynpark is tans net drie enkele aalwynplante nog op uiteenlopende plekke opspoorbaar. Onder die aantreklike koeltebome is tans geen voorsiening vir vullishouers nie.

“Daar is bloot die oorblyfsel van twee verwaarloosde betonbankies oor. Dit is heeltemal tot niet, net soos die dorp se oorspronklike swembadkompleks. Maar net twee van die belangrike openbare bates wat bloot stilweg net toegelaat is om heeltemal tot niet te gaan,” het Gilfillan gesê.

In die dorpsbeplanningskantore is vasgestel dat die sluiting en verkoping van oop ruimte 1640 beoog word, wat deur ‘n aansoeker gekoop en ontwikkel wil word as ‘n kerkgebou met ouditorium en kerkkantoorsentrum.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines