

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 January 2014
Die saak teen drie mense wat na bewering 'n onwettige dobbelhuis in Makhado (Louis Trichardt) bedryf het, is voorlopig teruggetrek.
Zonica Naudé (19), haar kêrel Jacques Jansen van Vuuren (19) en Lorraine Ndivhuwo Sadiki (28) is verlede jaar in Desember gearresteer by die Internet Entertainment Lounge by die Makhado Crossing winkelkompleks. Hulle is aangekla op klagtes wat verband hou met onwettige dobbelary in terme van die nasionale en provinsiale dobbelwette. Hulle het verlede Vrydag (17de) in die Louis Trichardt Distrikshof verskyn.
‘n Polisie-ondersoek het aan die lig gebring dat die drie glo al vir 'n geruime tyd 'n beweerde dobbelhuis, onder die vaandel van ‘n Internetkafee, bedryf het. Tydens die arrestasie is daar beslag gelê op al die toerusting van die Internet Entertainment Lounge. Advertensiemateriaal buite die winkel, wat verwys na sosiale media soos Facebook en Twitter is glo gebruik om kliënte om die bos te lei.
Die rekenaars waarop daar na bewering gedobbel is, kon die koerant intussen vasstel, is Maandag aan die eienaar terugbesorg in terme van ‘n Hooggeregshofbevel. Die eienaar se identiteit kan nog nie bekend gemaak word nie, want hy mag dalk nog later vervolging in die gesig staar.
Dit is juis om hierdie rede dat die saak teen Naudé, Jansen van Vuuren en Sadiki eers net voorlopig teruggetrek is – om die polisie kans te gee om hul ondersoek af te handel en die saak hofgereed te kry.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
