

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 January 2014
Hier in Makhado (Louis Trichardt) hoef dit jou nie miljoene uit die sak te jaag om 'n besigheid op die been te bring nie.
Huuruitgawes, belastings en lone wat vir wettige sakemense maandeliks ‘n kopseer is, word maklik ontduik as jou kantoor vanaf ‘n munisipale sypaadjie bedryf word.
Enige iemand kan nou 'n sakeman word.
As daar tans na die ellendige stand van die dorp se sypaadjies gekyk word – en daar in ag geneem word dat die munisipaliteit in twee jaar nog nie die situasie kon beredder nie – is dit die enigste gevolgtrekking wat gemaak kan word.
Bo en behalwe die onwettige besighede wat orals vanaf die sypaadjies bedryf word, is daar ook nou sakepersele wat opskiet in die residensiële areas.
Een só 'n besigheid is Mooketsi Towing Services in Olifantstraat 80. Omliggende inwoners in hierdie netjiese woongebied moet nou al meer as twee jaar langs die morsige erf leef. “Dit is onooglik – partykeer staan die scrap motors buite in die straat,” het 'n inwoner vertel wat nie geïdentifiseer wou word nie.
Daar is ook glo, volgens die bure in Olifantstraat, al munisipale verkeersvoertuie by Mooketsi Towing opgemerk. Nie vir wetstoepassing nie, maar wel glo as klante.
Nog 'n tuiste-besigheid wat vrae laat ontstaan het, is 'n skrootwerf in Groblerstraat 49, oorkant die Sewendedagse Adventiste Kerk. Hierdie perseel staan van hoek tot kant vol voertuie in verskillende stadiums van onklaarheid.
Groblerstraat, langs Fruit & Veg City, is nou 'n plek waar onwettige motorwerktuigkundiges hulle dienste aanbied. Build It op die hoek van Kruger- en Joubertstraat gebruik die sypaadjie om sement en bakstene te stoor, terwyl grondverskuiwingsmasjinerie vanaf die sypaadjie op die aangrensende leë erf uitverhuur word.
Vir die afgelope twee weke het die Zoutpansberger ‘n antwoord vanaf munisipale bestuurder mnr. Sakkie Mutshinyali probeer bekom.
Dit was egter gou duidelik dat daar nie maklik antwoorde gekry sou word op medianavrae nie. Buiten dat die munisipale woordvoerders met verlof was, het Mutshinyali sy lys van vrae eers na die "relevante departemente aangestuur vir antwoorde". Dit was Vrydag, 10 Januarie.
Opvolgoproepe is gemaak, en Mutshinyali het belowe om teen 17 Januarie antwoorde reg te hê.
Die Zoutpansberger het Mutshinyali spesifiek gepols oor wetstoepassing rondom onwettige besigheide in beide residensiële areas asook op die sypaadjies. Hy is verder ook gevra of die persele in Olifant- en Groblerstraat van "Residensiël 1" na "Besigheid 1" hersoneer is.
Dit is ook onder sy aandag gebring dat, in die geval van Mooketsi Towing, die munisipaliteit reeds in Oktober 2011 erken het dat dié besigheid onwettig bedryf word op 'n erf wat gesoneer is as "Residensieël 1". In die geval van die onwettige sypaadjie mechanics het die munisipaliteit, by monde van hulle woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, in 2013 erken dat dit ook onwettig is.
In beide gevalle het die munisipaliteit toe al beloftes gemaak om 'n stokkie daarvoor te steek en boetes uit te deel.
Maandag, 20 Januarie, het die koerant 'n e-pos ontvang vanaf Mutshinyali waarin hy erken dat die munisipaliteit verantwoordelik is vir die wetstoepassing van munisipale ordinasies rakende die sypaadjies, en dat dit wel gedoen word.
Dit is hier waar sy e-pos egter begin vaag word. “Ja, wetstoepassing word gedoen, en boetes is uitgereik aan dié wat die ordonasies oortree het, en ander is dienooreenkomstig gewaarsku,” het Mutshinyali in sy e-pos gesê. Hy het nie verder uitgebrei oor hoeveel boetes, of aan wie dit gedurende 2013 uitgereik is nie.
Besighede wat onwettig in residensiële areas bedryf word, is volgens Mutshinyali ook 'n rare verskynsel. “Die [besighede] wat onder die aandag gekom het van die munisipaliteit is in kennis gestel en gevra om sulke aktiwiteite te staak, en hulle het gehoor gegee,” het Mutshinyali gesê.
Volgens Mutshinyali is daar geen boetes vir sulke besighede in die afgelope 24 maande uitgereik nie.
Hersoneringsvrae oor die besighede in Olifant- en Groblerstraat moes weer 'n keer by Mutshinyali opgevolg word. Hy het Dinsdag bevestig dat die erf in Groblerstraat 79 in 2012 na “Besigheid 1” hersoneer is. Hy het bevestig dat die eienaar in terme van sy proklamasie sy perseel mag gebruik om voertuie te verkoop. Die perseel mag nie vir ‘n skrootwerf gebruik word nie, en geboue moet netjies na buite vertoon ingevolge dié voorwaardes.
In die geval van Mooketsi Towing is die erf steeds 'n residensiële erf. “Die eienaar is besig om munisipale bywette te oortree as die perseel gebruik word vir 'n ‘insleepdiens’,” het Mutshinyali gesê. Hy het verder bevestig dat oortredingsbriewe uitgereik sal word in beide gevalle.
Teen druktyd het Mutshinyali nie terug geantwoord oor wanneer die briewe uitgereik sal word nie, en ook nie of daar aandag gegee sal word aan die sypaadjiesakemanne nie.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
