ADVERTISEMENT:

 

Pensionaris vat misdadigers vas

 

News  Date: 09 July 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - ‘n Baie moedige 67-jarige het vir sy lewe geveg en twee misdadigers afgeweer tydens ‘n aanval op ‘n hoewe sewe kilometer suidwes van die dorp.

Mnr. Philip du Toit van die Rietvleihoewes het met net ‘n kombuismes geveg teen twee gemaskerde aanvallers wat met ‘n ysterpyp en ‘n ysterbal gewapen was. Die voorval het op Sondag, 27 Junie, plaasgevind.

Mnr. Du Toit, ‘n oud-polisieman, het ‘n wond op die kop opgedoen waar hy met die ysterpyp oor die kop geslaan is, maar hy het daarin geslaag om die aanvallers te verdryf.

“Ek wil alle eer vir die Here gee. Hy het my gehelp om die regte besluite op die regte oomblik te neem. Hy het my voorsien van krag. Ek was nie paniekerig nie en vol moed,” sê mnr. Du Toit.

Normaalweg is mnr. Du Toit op ‘n Sondagaand in die kerk, maar omdat hy siekerig was, het hy vroeg gaan lê. Sy skoonseun, mnr. JP Uys, wie se woonhuis op Rietvleihoewe 20 sowat veertig meter van mnr. Du Toit geleë is, het die betrokke aand kerk toe gegaan. Die vrouens en kinders was op vakansie in Durban.

Die rowers het eers mnr. Uys se huis beroof van ‘n televisiestel, rekenaar, omkapmasjiene, naaimasjien, ander elektriese toestelle, beddegoed en vleis. Volgens mnr. Uys is die waarde van die gesteelde goedere sowat R28 000.

Na die huisbraak het die rowers na mnr. Du Toit se huis beweeg en waarskynlik gedink dat hy ook nie tuis was nie. Dit versterk die vermoede dat inligting van binne vir hierdie rooftogte verkry word.

Mnr. Du Toit het wakker geword van houe teen die kombuisdeur. Dieselfde oomblik wat die kombuisdeur oopgeforseer is, het die krag ook afgegaan en het die hele drama in die donker afgespeel. Mnr. Du Toit het in die gang afgekom en die aanvallers in Sotho gevra wat hulle wil hê.

Dwarsdeur die voorval het hy die vraag ‘n paar maal herhaal, maar nie een het ‘n woord geuiter nie.

‘n Hou oor die kop met die ysterpyp het bloed oor mnr. Du Toit se gesig, oë en klere laat stroom. Hy het weer die deur toegedruk, alhoewel die deur nie meer kon sluit nie. Vinnig het mnr. Du Toit ‘n vleismes in die kombuiskas gegryp vir selfverdediging.

Intussen het die indringers weer die kombuisdeur oopgekry. Die aanvaller het gereedgemaak om vir ‘n tweede maal met die ysterpyp te slaan.

“Hy het geslaan om dood te slaan – hy het geen genade gehad nie. Hy was nogal parmantig,” sê mnr. Du Toit van die aanvaller.

Gelukkig kon mnr. Du Toit al sy houe ontduik. Een van die steke na die “parmantige” aanrander was raak.

“Sy klere was baie dik, maar ek het agtergekom dat hy ‘n bietjie terugdeins.”

Daarna het mnr. Du Toit geleidelik die oorhand begin kry. Intussen is die kombuisdeur se deurstop, ‘n ysterbal, ook na mnr. Du Toit geslinger.

Die aanvallers is toe al verdryf tot buite. Die ysterpyp is na mnr. Du Toit se gesig gegooi, maar het gelukkig gemis.

Mnr. Du Toit, wat vroeër die jaar ‘n operasie ondergaan het, het wonderbaarlik nog kans gesien om die “parmantige” aanvaller tot oor die draad agterna te sit. Daarna het hy terug oor die draad gespring en die ander een met die pad af gejaag.

Mnr. Du Toit het na sy skoonseun se huis gegaan en die huis oop gevind. Daarna het hy sowat 45 minute in die pad gewag om ‘n voertuig voor te keer. Die eerste motor wat dié bebloede mnr. Du Toit teëgekom het, was sy skoonseun s’n. Dit was omstreeks 23:30. Mnr. Uys het dadelik hulp ontbied. Hulle buurman, mnr. Lukas Beyers, het ook dadelik kom help.

Mnr. Du Toit kon op Dinsdag, 6 Julie, nie uitgepraat raak oor die flinke diens van die polisie nie.

“Binne twaalf minute was hulle daar. Superintendente Daan Henning en Douw van Tonder, die honde-eenheid met hulle kaptein, die area kommissaris, die speurafdeling, die vingerafdrukafdeling, die Lugmagbasis … Polisievoertuie het tot die volgende oggend gewaak oor die huise.” Mnre. Du Toit en Uys bedank almal wat kom help het. Klagtes van huisbraak, diefstal en aanranding met die doel om ernstig te beseer is gelê.

Die polisie het bevind dat die spore lei na die hoofpad na Madombidzha. Daar is die goedere blykbaar op ‘n bakkie met gladde bande gelaai. Gedurende die nag is drie verdagtes vir ondervraging aangekeer. Later is ‘n arrestasie gemaak van ‘n persoon wat in Desember verlede jaar by mnr. JP Uys ingebreek het. Speurders patrolleer nog steeds die omgewing.

* Vanaf die polisie se skakelafdeling is daar niks oor die voorval aan die media deurgegee nie. Dit was eers toe mnr. Du Toit self die koeran tna druktyd verlede week genader het oor die voorval, dat die voorval onder die koerant se aandag gekom het.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines