

ADVERTISEMENT:

News Date: 17 December 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Twee senior polisie-offisiere van die Makhado SAPD is dié week uit hul poste onthef na maande se klagtes oor swak dienslewering in die streek.
Die stasiebevelvoerder, supt. Festus Baloyi, asook die hoof van die plaaslike Misdaadvoorkomingseenheid, supt. Maanda Malange, is Dinsdag van hul pligte by die polisiestasie onthef. Dit volg na maande se toenemende ongelukkigheid oor die onaanvaarbare hoë misdaadsyfer en die polisie se skynbare onvermoë om die gewelddadige aanslag op inwoners se lewens en hul eiendom hok te slaan.
Die situasie het in Oktober breekpunt bereik, na die sinnelose en koelbloedige moord op die 66-jarige plaasboer, mnr. Martin Armitage. Oor ‘n periode van ‘n week was daar ook drie ander gewelddadige plaasaanvalle, asook die moord op ‘n polisie speurder, s/insp. Daniel Mthombeni. Kort daarna het die gru-moord gevolg op die Hayward-egpaar van die Moutain View Hotel. Al hierdie gebeure, om maar ‘n paar gevalle te noem, het bygedra tot inwoners se geloof dat die polisie totaal en al hul greep op die bekamping van misdaad verloor het. ‘n Groot deel van die skuld is direk geplaas voor die deur van die plaaslike SAPD se senior bestuur.
Na aanleiding van bogenoemde het die provinsiale kantore van die SAPD in Polokwane aangekondig dat hulle reeds ‘n geruime tyd voor hierdie gebeure bewus geword het van probleme ten opsigte van dienslewering by die plaaslike SAPD. Supt. Ronel Otto het in daardie stadium gesê dat hulle vanaf provinsiale kant probeer het om die probleme aan te spreek deur konsultasie en opleiding, maar dat dit duidelik geblyk het dat hulle pogings geen impak gehad het nie. Sy het reeds toe voorspel dat daar moontlik verplasings en dissiplinêre optredes kan volg, na aanleiding van ‘n hoëvlak ondersoek.
Dit is duidelik dat die verwyder van supt. Baloyi en supt. Malange ‘n direkte uitvloeisel is van dié hoëvlak ondersoek. Dit is ook bevestig deur die polisie se provinsiale kommissaris, Calvin Sengani.
“In die belang van dienslewering is daar besluit om sekere senior bestuurslede van die polisiestasie te verplaas,” het Sengani gesê. Hy het bygevoeg dat Baloyi en Malange tydelike na die polisie se area-kantore verplaas sal word, waar hulle verdere opleiding sal ontvang.
Sengani het gesê dat dienslewering aan die publiek een van die SAPD se prioriteite is in die Limpopo Provinsie. Hy het verder ook genoem dat hulle sal voortgaan om die plaaslike polisiestasie te monitor om seker te maak die belange van die publiek word beskerm. Daar was geen aanduiding van wie in die twee vakante poste aangestel gaan word nie, maar die versekering is gegee dat dit spoedig sal plaasvind.
Intussen het die Demokratiese Alliansie se plaaslike voorsitter, mev. Marie Helm, gereageer deur te sê dat sy bekommerd is oor die geheimsinnige “oornag” verwyder van die twee offisiere.
“Dit is nie die eerste keer dat die stasiebevelvoerder in Louis Trichardt oornag verwyder is nie. Dit skep die indruk dat die SAPD nie instaat is om die bepalings van die Arbeidswetgewing toe te pas en uit te voer nie,” het Helm gesê. Sy het voorgestel dat die proses in die vervolg meer deursigtig moet wees.
“Indien personeel skuldig is aan vermeende onbekwame of wangedrag en geen dissiplinêre verhoor word gehou nie, kan twee dinge gebeur. Eerstens word die betrokke lid verplaas na ‘n nuwe werkplek en dieselfde onaanvaarbare gedrag duur voort, of, indien die lid onskuldig is, word daar onnodig ‘n klad op sy/haar naam geplaas,” sê Helm. Sy het verder genoem dat indien die regte prosedure gevolg word en ‘n persoon skuldig bevind word aan wangedrag of onbekwame gedrag, dié persoon uit die SAPD verwyder moet word en nie net verplaas moet word nie.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
