ADVERTISEMENT:

 

Plaaslike sakeman, Ronnie Sutherland (links) kyk toe terwyl lede van die Batebeslagleggingseenheid en die polisie se Georganiseerde Misdaadeenheid sy pragwoning op sy plaas Doornspruit deurgaan. Daar is beslag gelê op al sy bates.

Staat vat Sutherland en Ras se bates

 

News  Date: 17 December 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die Staat het Maandag beslag gelê op die bates van bekende plaaslike sakeman, Ronnie Sutherland (59), en lugmagkorporaal, Dawid Ras (33).

Lede van die Batebeslagleggingseenheid van Polokwane en die Georganiseerde Misdaadeenheid van Thohoyandou het Maandagoggend eerste toegeslaan by Sutherland se pragwoning op sy plaas Doornspruit op die Elim-pad. Sy bates is te midde van ‘n sterk polisieteenwoordigheid verwyder, ten aanskou van sy tienerseun. Daarna is daar na Lugmagbasis Makhado beweeg, waar daar op Ras se bates beslag gelê is. In totaal is daar op sowat R3 miljoen se bates op beslag gelê.

Die beslagleggingsbevel kom te midde van die Staat se saak van korrupsie en bedrog teen Sutherland en Ras ten bedrae van digby ‘n miljoen rand. Die twee word daarvan aangekla dat hulle lugmagmasjinerie vir eie gewin gebruik het, asook ongerymdhede rakende dienskontrakte vir LMB Makhado. Die saak sloer al vir meer as ‘n jaar.

Ras is in September 2003 gearresteer op klagte dat hy omkoopgeld- en geskenke ontvang het in ruil vir die toekenning van lugmagkontrakte. As lid van LMB Makhado se aankope-afdeling was Ras onder meer verantwoordelik vir die inwin van kwotasies en die toeken van kontrakte.

Sutherland is in November 2003 gearresteer in verband met die saak teen Ras. Daar word beweer dat Ras vir Sutherland gehelp het met die leen van die lugmag se Komatsu-stootskraper, sonder die lugmag se wete. Die stootskraper is na bewering deur Sutherland aangewend vir die voltooiing van ‘n privaat kontrak vir die Tshikombani-tak van die ZZC-kerk ten bedrae van bykans ‘n halfmiljoen rand. Buiten vir dié beweerde onwettige transaksie, word daar ook ander klagte ondersoek wat spesifiek te doen het met lugmagkontrakte wat Sutherland vir die lugmag verrig het, veral met betrekking tot die instandhouding van hul masjinerie.

Alhoewel Sutherland en Ras aanvanklik afsonderlik verskyn het, is hulle sake later saamgevoeg. Tydens hul mees onlangse verskyning in die plaaslike landdroshof is hul saak uitgestel tot vroeg volgende jaar. Alhoewel daar nog nie uitspraak in die saak is nie, is daar reeds op Sutherland en Ras se goedere beslag gelê ingevolge ‘n bepaling dat die Batebeslagleggingseenheid op ‘n persoon se bates kan beslag lê alvorens daar uitspraak in die saak is.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines