

ADVERTISEMENT:

News Date: 23 May 2003
LOUIS TRICHARDT – Marisa Naudé, een van Hoërskool Louis Trichardt se oudleerlinge, is steeds aan die presteer. Sy is onlangs aangewys as een van vyf nasionale finaliste in die studente-kategorie van die ABSA Topentrepreneur-kompetisie vir 2003.
Marisa het in 2001 hier gematrikuleer en is tans 'n tweedejaar LLB-student (regte) by die Universiteit van Pretoria. Reeds in 2002 het sy al haar vernuf in die besigheidswêreld gewys, toe sy die O/19 tot O/23-kategorie van die jaarlikse Soutpansberg Entrepreneurs-kompetisie gewen het. Soortgelyk die Soutpansberg Sakekamer wat as borg van laasgenoemde kompetisie optree, word die ABSA Topentrepreneurs-kompetisie aangebied in samewerking met die Groter Johannesburg Sakekamer.
Deelname aan die ABSA Topentrepreneurs-kompetisie het behels die indien van 'n sakeplan vir 'n bestaande besigheid. Die sakeplan moes ook ondersteun word deur ondermeer bankstate. Marisa se sakeplan het gekonsentreer op die verkoop van volwasse boomvarings. Sy koop saailinge aan, maak dit groot en verkoop dan die volwasse plante.
As een van die groep nasionale finaliste (vyf in die studente-kategorie en vyf in die hoërskole-kategorie), het Marisa reeds 'n R1 500 prysgeld en betaalde toer na Duitsland en Oostenryk gewen. Die toer vind plaas van 17 tot 26 Junie. Marisa sal saam met mede finaliste ondermeer besoek aflê in Munich, Fuessen, Oberammergau, Innsbruck, Rattenberg, Salzburg, Gmunden en Vienna. Die finale wenners in die ABSA Topentrepreneurs-kompetisie sal op 27 Junie tydens 'n galadinee by die Birchwood Konferensie Sentrum in Boksburg aangewys word.

ADVERTISEMENT:
