

ADVERTISEMENT:

News Date: 17 December 2004
MUSINA – Spirulina produksie by die plaaslike aanleg hou groot finansiële, maatskaplike en wetenskaplike moontlikhede in, wat vir die hele land van belang kan wees.
Die aanleg kan in die totale Suid-Afrikaanse vraag na spirulina voorsien en die plaaslike produk word beskou as die beste wat internasionaal beskikbaar is.
Die eerste oes toetslopie by die multimiljoen rand spirulina-aanleg op Musina is vandeesweek met welslae voltooi tydens die amptelike opening van die aanleg. Die projek, wat deur die Musina Munisipaliteit in samewerking met die Vrystaatse Universiteit aangepak is, is Maandag geopen.
Die proses wat in die aanleg gebruik word, is ontwikkel deur prof. Johan Grobbelaar, hoof van die plantkunde fakulteit aan die Vrystaatse Universiteit en maak gebruik van ‘n rewolusionêre drogingsproses. Prof. Grobbelaar is die afgelope 30 jaar reeds betrokke by algbiotegnologiese navorsing en –projekimplementering.
Die aanleg by Musina beslaan vyf hektaar en is ontwerp om drievoudig uitgebrei te kan word. Die aanvanklike produksiekapasiteit van die aanleg beloop tussen 70 en 90 kilogram per dag, wat ‘n potensiële inkomste van tussen vyf tot agt miljoen rand per jaar en ‘n jaarlikse wins van tussen twee en vyf miljoen rand kan oplewer.
Prof. Grobbelaar het vandeesweek in ‘n onderhoud gesê die volgende fase van die produksie-aanleg sal waarskynlik reeds binnekort aangepak word. Hy sê die Suid-Afrikaanse regering plaas ‘n hoë premie op die ontwikkeling van bio-tegnologie in die uitbouing van die land se ekonomie.
“Ons is baie opgewonde oor die produk wat by Musina gelewer word. Die gehalte is òf die heel beste, òf onder die heel bestes in die wêreld.”
Hy sê Suid-Afrika voer tans 20 ton spirulina per jaar in. Die Musina aanleg is instaat om 25 ton per jaar te kan lewer.
“Van die ingevoerde spirulina het veelal ‘n vreemde reuk en smaak. Die Musina produk is opvallend beter.”
Prof. Grobbelaar sê daar is wêreldwyd ‘n enorme toename in die vraag na spirulina. Die mark groei met nagenoeg 20% per jaar.
“Ons ondervind internasionaal groot belangstelling in die Musina produk. Een van die grootste bemarkingsgroepe ter wêreld het reeds aangebied om die volledige produksie van die Musina aanleg oor te neem.”
Die supergroen voedselaanvulling spirulina is ‘n blou-groen alg, wat oorspronklik in seewater aangetref is. Dit is volgepak met vitamine, minerale en ander belangrike verbindinge, poli-onversadigde vette en anti-oksidante. Dit is, sover bekend, die voedingstof met die hoogste konsentrasie van vitamine B12 en word wêreldwyd benut as ‘n hoë-potensiaal, kragtige dieetaanvulling.
Benewens sy uitstaande gehalte het Musina se produksie ‘n verdere mededingende voorsprong as gevolg van die rewolusionêre drogingsproses wat gebruik word. Die droër wat uit Duitsland ingevoer is, benut nuwe, vereenvoudige tegnologie wat goedkoper is en minder energie gebruik.
Musina word beskou as die ideale plek om spirulina te kweek.
“Die algplantjie wat ons gebruik benodig ‘n temperatuur van 35ºC om optimaal te kan groei. Hierbenewens beskik Musina oor ‘n onbesoedelde omgewing met onbesoedelde water. In die Limpoporivier beskik Musina oor ‘n ideale, onbesoedelde waterbron. Musina se mense was ook die heel eerste wat bereid was om die nuwe proses op kommersiële skaal te beproef, ter wille van werkskepping en ‘n alternatiewe inkomstebron, na die sluiting van die myn op die dorp.”
Die aanleg sal na verwagting in Januarie 2005 tot volskaalse produksie oorgaan.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
