

ADVERTISEMENT:

News Date: 31 January 2014
“Die reën is pragtig, man, dis ongelooflik! Ons het regtig lanklaas sulke goeie groot neerslae gehad,” het ‘n boer van Levubu, mnr. Dries Joubert, Dinsdag gesê nadat hy vanaf Sondag amper 200mm reën gemeet het.
Joubert het gesê hulle is baie opgewonde oor die jaar se oeste wat voorlê. “Ons avokado-oes is baie belowend en die neutoes is baie beter as verlede jaar,” het hy gesê.
Die boere verwag om die derde week in Februarie met die avokado’s te begin en die makadamia neute het al so stadigaan begin afval.
“Dit is wonderlik watter goeie seisoen ons tot nou toe gehad het, maar hierdie reën wat ons nou gekry het, is ons rivierwater en boorgatwater,” het Joubert gesê. Hy het Desember ook as ‘n goeie maand beskou, aangesien die neerslae, hoewel klein, dikwels geval het en goed opgevolg was.
Mnr. Stephen Hoffman, voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie (SDLU), stem saam dat hierdie reën die ondergrondse watertafel goed aanvul. Hoffman het ook Dinsdag gesê dat Levubu vanaf Saterdagnag tussen 120 en 160mm reën ontvang het, met baie hoër neerslae op die berg. Hy het Sondagoggend so 35mm tot 40mm uitgegooi, terwyl daar Maandagoggend 50mm bygekom het en Dinsdagoggend nog 80mm. Aan die suidekant, teen die Levuburivier af, het dit ‘n bietjie minder gereën, sowat 100 tot 120mm.
Hoffman vertel dat daar op Vivo en Waterpoort teen Maandagoggend tussen 10 en 20mm reën geval het. Waterpoort het gelukkig vroeër in Januarie baie goeie neerslae van tussen 140 en 180mm gehad en Vivo tussen 60mm en 80mm.“Ons was nie hierdie reën te wagte nie. Dit het gekom weens ‘n tropiese laagdruk. Ons is baie dankbaar. Dit lyk of die laagdruk nou suidwes skuif. Die verwagting is dat dit Alldays toe skuif,” het Hoffman gesê.
Alldays het toe ook ‘n lafenis gekry. Mnr. Robert Gallon van die plaas Tweeddale in die Alldays-omgewing het berig dat dit Maandag omstreeks 13:00 ook daar begin reën het. Teen Dinsdagmiddag het Alldays so tussen 6 en 20mm reën gekry. “Dit is los buitjies. Ons is geseënd met hierdie reën en die reën wat sowat twee of drie weke gelede geval het. Die weiding lyk pragtig en die beeste is spekvet en gesond,” het Gallon gesê. Hy het bygevoeg dat hulle die winter sal kan deursien, maar dat dit goed sal wees as daar opvolgreën is.
Volgens die sekretaresse van die SDLU, me. Hester Bayes, het die Louis Trichardt Boerevereniging se voorsitter, mnr. Fritz Ahrens, berig dat hy 170mm reën ontvang het. “Omliggend vir Makhado (Louis Trichardt) was die reënval dus tussen 110mm en 170mm,” het Bayes gesê.
In die dorp het mnr. Willie Agenbacht van Saterdagnag tot Dinsdagoggend 105mm reën in sy boekie aangeteken. Oom Willie teken al vir jare getrou elke dag se reënneerslag aan. Hy het Sondagoggend 48mm uitgegooi, Maandag 38mm en Dinsdag 17mm. “Dit is in Malvastraat. Mev. Hannelie Harmse, wat naby die Hervormde Kerk woon, het my egter vertel dat sy net vir Sondag alleen 100mm reën gemeet het,” het oom Willie gesê. Die totale reën vir Januarie tot dusver, aangeteken deur oom Willie, kom op 215mm te staan. In Desember het hy 128mm reën aangeteken.
“Verlede jaar Januarie het ons ‘n tropiese sikloon gehad en amper 500mm reën gekry. Dit was uitsonderlik,” het oom Willie gesê. Desnieteenstaande het hy tog die gevoel dat daar nog reën aan die kom is, gegrond op “die swart miere wat steeds bedrywig is en die rysmiere wat ontsettend aktief is.”
Mnr. Dries Joubert stem saam dat verlede Januarie uitsonderlik was. Op Levubu het hy verlede Januarie 800mm gemeet. “Dit was baie water, maar nie te veel nie. Hier by ons sal nooit te veel water wees nie!”
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
