

ADVERTISEMENT:

News Date: 31 January 2014
“Ag nee man! Net toe ons dink dinge word beter, toe is daar geen water in ons straat nie,” het een inwoner van Makhado (Louis Trichardt) opgemerk.
Ná ‘n sorgvrye feesseisoen oor Kersfees en Nuwejaar, met water in die krane, het inwoners net begin ontspan. “Ek kon in die feesseisoen saam met my pa op die plaas uitspan, sonder enige oproep rondom waterprobleme,” het AfriForum voorsitter mnr. Wally Schultz hierdie week gesê. Vanaf 9 Januarie het verskillende sarsies waterlose dae die inwoners opnuut getref. ‘n Gebrek aan water is aangemeld in die westelike deel van die dorp en in die besigheidsgedeelte.
Die jongste vlaag het Dinsdag, 21 Januarie, begin en AfriForum was ernstig op soek na ‘n verduideliking. Ná talle oproepe en SMS’e aan die Vhembe Distriksmunisipaliteit (VDM) was Schultz steeds op soek na ‘n bevredigende antwoord. “Daar is aan my gesê dat ‘iemand ‘n klep toegedraai het’,” sê Schultz. “Niemand kon sê wie dit gedoen het, waar dit gedoen is en hoekom dit gedoen is nie.”
Na vele ontmoetings met die VDM het Schultz vasgestel dat daar genoeg water uit die Albasinidam gepomp word. Hy het die hele pyplyn persoonlik ondersoek deur daarlangs te stap en het Vhembe se tegniese bestuurder, mnr. Walter Madimutsa, saamgeneem. Daar was geen lek nie. Mowcop reservoir het egter bly sak. “By die vergadering het mnr. Madimutsa gesê dat die klep nie toegedraai was nie, maar oopgedraai was. Dit het geen sin gemaak nie,” het Schultz gesê. “Ons het vasgestel dat water van Mowkop na die Berghstraat reservoir gepomp word, maar die Berghstraat reservoir het ook net bly sak. Daarom het ek aangedring dat ek en van die Vhembe-manne soek na lekke op die ander lyne,” het Schultz gesê. Op 28 Januarie, na ‘n lang soektog, is ‘n lek in die industriële area gevind.
Mnr. David Mukosi, Vhembe se waterdienste bestuurder in Makhado, het verduidelik dat hulle ‘n gebarste pyp in die bosse in die omgewing van Eden Oil gevind het. “Die water het by die rivierkruising ingespoel. Ons aanvaar dat dit die rede was waarom die Berghstraat reservoir nie vol geword het nie. Ons het Berghstraat se water vanaf Mowkop aangevul,” het Mukosi gesê. Hy het bevestig dat die Mowkop reservoir Dinsdagoggend tussen 0 en 5% vol was en die Berghstraat reservoir tussen 40 en 50%.
Oor die oop en toedraai van kleppe, het Vhembe se munisipale bestuurder, mnr. Masala Makumule, hierdie week gesê dat daar wel ook operasionele probleme was in terme van werknemers wat nie die kleppe na behore oop- of toegedraai het nie.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
