

ADVERTISEMENT:

News Date: 31 January 2014
Die nuwe Wet op Gevaarlike Wapens (Wet 15 van 2013) het skaars in werking getree, toe is daar reeds talle vrae oor hierdie wet by inwoners.
Dié wet het op 2 Januarie vanjaar amptelik in werking getree met die polisie in Makhado (Louis Trichardt) wat feitlik dadelik die wet begin toepas het. Dit was juis die optrede van die polisie wat talle vrae laat ontstaan het.
‘n Inwoner moes op 6 Januarie in die Louis Trichardt Distrikshof verskyn, nadat hy in besit gevind is van ‘n gevaarlike wapen – ‘n klein knipmessie wat aan sy sleutelhouer vas was. Die saak teen die man is egter van die hofrol geskrap en daarom kan hy nie geïdentifiseer word nie.
Hierdie voorval het die Zoutpansberger genoop om bietjie meer ondersoek te gaan instel oor die bepalings van die nuwe wet. “Heng, ‘n pen kan dan mos nou as ‘n gevaarlike wapen geklassifiseer word,” het een inwoner tong-in-die-kies opgemerk.
Kol. Bez Bezuidenhout van die Makhado SAPD se vuurwapenafdeling is vir ‘n bietjie raad gevra.
In terme van die nuwe wet, het Bezuidenhout verduidelik, is dit nou ‘n kriminele oortreding as iemand in besit gevind word van ‘n gevaarlike wapen. Hy het egter klem daarop gelê dat die polisie nie bloot iemand kan arresteer omdat hulle in besit is van ‘n gevaarlike wapen nie. Daar moet ook opset bewys kan word. Met ander woorde, voordat die polisie iemand kan arresteer in terme van die nuwe wet, moet hulle kan bewys dat die persoon se voorneme was om iemand anders skade te berokken of om ‘n misdryf te pleeg.
‘n Gevaarlike wapen word in terme van die nuwe wet gedefinieer as enige wapen, buiten nou ‘n vuurwapen, wat gebruik kan word en lei tot die dood of ernstige liggaamlike leed van ‘n ander persoon. Dit beteken enige iets van ‘n mes, spies, tomahawk, knopkierie, pepersproei, koevoet of nunchakus kan ‘n gevaarlike wapen word. ‘n Luggeweer (pellet gun) of ‘n speelgoedgeweer kan ook onwettig word as dit met kwade bedoelings gebruik word.
Verder maak die wet nou ook voorsiening vir addisionele regulasies vir die hou van protesoptogte. Dit is nou onwettig vir enige deelnemer aan so ‘n optog om wapens soos pangas en knopkieries saam met hulle te dra gedurende ‘n optog. Indien ‘n optogganger ‘n wapen by hom dra, mag hy op die plek in hegtenis geneem word, sonder dat die polisie enige opset hoef te bewys.
In terme van die nuwe wet kan ‘n oortreder ‘n boete (soos deur ‘n hof bepaal) of tronkstraf van tot drie jaar in die gesig staar.
Die wet, het Bezuidenhout verduidelik, geld egter nie vir iemand wat ‘n wapen gebruik gedurende die wettige uitvoering van hul werk nie. Dit sluit in ‘n lid van die polisie of ‘n sekuriteitswag. Verder is dit ook nie onwettig as gevaarlike wapens in die deelname van enige godsdienstige of kulturele aktiwiteite, of wettige sport, ontspanning, of vermaak of wettige versameling, vertoon of uitgestal word nie.
“Mense hoef nou ook nie bekommerd te wees dat hulle ‘n ekstra permit of lisensie nodig sal kry vir hulle Leatherman-knipmes nie,” het Bezuidenhout gesê. “Die konteks of situasie waarin iemand betrap is en ‘n wapen gebruik sal, bepaal of hy gearresteer sal word of nie.”
Bezuidenhout kan geskakel word vir meer inligting by 015 519 4460 of 082 414 8474.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
