ADVERTISEMENT:

 

Hierdie illustrasie toon die koeëlbaan aan van die koeël wat vir JP Kleingeld noodlottig gewond het. Die boer (1) het agterop die bakkie gekniel en dooierus gevat na ‘n bok. Die geweerloop het in ‘n duik tussen twee versterkingsriwwe op die dak gelê (2). Die boer se geweerskoot het oor die dak getrek, waar dit die volgende versterkingsrif getref (3) en deur die dak gegaan en ‘n dwarsbalk getref het binne-in die bakkie (4) en vir Kleingeld agter die stuur van die bakkie getref het (5).

Noodlottige skoot bloot ‘n ongeluk, nie moord

 

News  Date: 31 January 2014

 

‘n Boer van die Alldays-omgewing, wat van ‘n vriend se moord aangekla is, is vrygespreek nadat kenners bevind het dat die voorval ‘n fratsongeluk was.

Die boer is van moord aangekla nadat JP Kleingeld (24) gedurende ‘n skietvoorval op sy plaas naby Alldays verlede jaar dood is. Kleingeld was saam met die boer en nog vriende besig om te jag op die plaas toe die voorval plaasgevind het.

Aanvanklik is die boer eers aangekla van poging tot moord, maar nadat Kleingeld oorlede is, is die klag verander na moord. ‘n Forensiese ballistiese ondersoek wat gedoen is, het egter die klag van moord weerlê.

Die skoot wat Kleingeld gedood het, was volgens die verslag niks anders as ‘n onwaarskynlike skoot gewees nie. Omdat die boer vrygespreek is van vervolging en nie verhoor gaan word nie, kan hy nie geïdentifiseer word nie.

Die voorval het op 12 Julie verlede jaar plaasgevind. Kleingeld was besig om ‘n Toyota dubbelkajuit bakkie te bestuur, terwyl die boer en nog ‘n vriend agter op die bakkie gestaan het.

Volgens die ballistiese verslag het die boer, met sy .308-jaggeweer, in die linkerkant van die bak gestaan, terwyl hy met die wapen oor die dak van die bakkie dooierus gevat het na ‘n rooibokooi wat ongeveer 130 meter van die bakkie gestaan het. Die boer het deur ‘n sterk teleskoop na die bok gemik.

Die loop van die geweer het tussen vier versterkingsriwwe (sien meegaande illustrasie) in ‘n duik gelê. Volgens die verslag was die punt van die loop sowat 8cm weg van waar die volgende rif uitgestaan het op die dak. Dus het die afgevuurde patroon eers deur die duik tussen die twee riwwe getrek, voordat dit die volgende rif getref het. 

Die rif, wat nou in die pad van die koeël se baan was, het veroorsaak dat die koeël van rigting verander en deur die dak van die bakkie getrek het. Van hier het die koeël ‘n dwarsbalk binne-in die kajuit getref, weggeskram en Kleingeld in die kop getref. Kleingeld is ‘n week later in die MediClinic in Polokwane oorlede.

Die verslag het bevind dat as dit nie vir die versterkingsriwwe bo-op die dak van die bakkie was nie, die koeël oor die dak sou getrek het en dat hy waarskynlik die rooibok sou getref het. Omdat die boer deur die teleskoop aangelê het, kon hy nie sien dat die rif in die pad van die loop was nie.

Die verslag noem ook dat die praktyk om vanaf ‘n bakkie te jag algemeen aanvaarbaar is in Suid-Afrika is en nie onwettig is nie. Kleingeld se dood word beskryf as ‘n tragiese ongeluk, wat deur niemand voorsien kon word nie en gevolglik het die Direkteur van Openbare Vervolging, ná ontvangs van die boer se vertoë, besluit om nie die boer verder te vervolg nie en die saak teen hom terug te trek.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines